Die sport van mindere mans (Breederivier roei 2015)

Daar is is 3 maniere om iets gedoen te kry:
1) doen dit self,
2) huur iemand anders om dit te doen,
3) of sê vir jou kinders hulle mag dit nie doen nie…

Ongelukkig is daar ook ‘n kinderweergawe hiervan: pa sal dit nie kan doen nie!

mindere mans
Die sport van mindere mans – sien hieronder

Die pa in hierdie verhaal sal anoniem bly ingeval sy kleinkinders dalk eendag hierop afkom en nie beïndruk met hulle oupa is nie. Ek is nie die een wat ‘n kleinkind se fassinering met sy oupa wil vertroebel nie. Dit is mos so dat diegene van ons wat dogters het, eendag ons dogters moet afgee aan jongmanne met hopeloos te veel gebreke, sodat die wonderlikste kleinkinders in die wêreld uit so ‘n huwelik gebore kan word! Jan de wet het mos gese as hy geweet dit is so lekker om ‘n oupa te wees, was hy al lankal een…

Saterdagmiddag om en by 5 uur langs die Breederivier.  Ons het pas die kanos teen die wal vas ge-anker na voltooiing van  lewensbedreigende uitdagings soos die “Wall of death”. Geen kanos het eers omgeval nie, vreeslose deurwinterde, professionele, witwaterroeiers wat ons is. Ons as volwassenes het dus reeds almal bewys hoe vaardig, fiks en jonk ons is. Links van ons lê die Breede in sy breede glorie en regs van ons ‘n sandduin met ‘n skerp helling na bowe. ‘n Tasbaar ongewone omgewing wat pas by ons as  ongewone  mense (en veral pa’s).  Hierdie is die tipe plek waar Stanley sou gese het: “Dr. Livingstone I presume”. n Epiese plek van genoegdoening and a job well done (amper soos toe ons Vicpiek bemeester het Jacques en vir sommige van ons times twice, maar dis ‘n ander storie).

r11
Niks bang vir Wall of death nie

Dit was dus heeltemal ontoepaslik dat anonieme tienerseun uitdagend teenoor anonieme vader daardie vier dubbele 3-letter frase kon gebruik: sal nie kan nie.  Pa sal nie teen die sandduin kan uithardloop nie. Ek kon sommer sien dat die pa nie lus is om daar uit te hardloop nie (nie dat hy dit nie kan doen nie, hy kan dit uit die aard van die saak doen, hy is net nie lus daarvoor nie, want dit is nie ‘n uitdaging nie).  Maar nou het sy liewe anonieme seun dit ten aanhoor van ander pa’s gesê en sou hulle besef dat – die nie lus nie (want dit is nie ‘n uitdaging nie) – die beweegrede is en nie omdat hy opsien daarna nie! Anonieme pa het die groen bal so gekyk wat op die water ronddobber (wat mindere mans en seuns na mekaar gegooi het) en hulle, hul klein wêreldjie beny.  Hy sal opsienende teen die hoogte moet uit…

Met die besluit geneem het ek belangstelling verloor en voortgegaan met die sport van mindere mans. Na ‘n wyle het ek Tarzan hoor gil/kreun/juig (wat doen Tarzan nou eintlik). Ek het momenteel my skool aardrykskunde leêrs afgestof en besef dat hierdie nie midde-Afrika is nie en dit dus nie Tarzan kan wees nie – my belangstelling was geprikkel! Op die kruin van genoemde heuwel was Danie (van verantwoordelik vir hierdie jaarlikse ekskursie-faam) besig met ‘n reëndans /oorlogsdans/ rieldans/ foxtrot/ salsa/volkspele (wel dit is moeilik omskryfbaar). Dit blyk toe te lyk dat hy voor genoemde anonieme seuns en pa, in daardie volgorde, daar aangekom het…

Danie se vreugde was onbeperk en sy dans choreografie meesterlik geïnspireer danksy rou oorwinningspassie (nie dat dit ‘n kompetisie was nie).  Buitendien die kompetisie het nie deelgeneem nie… Ek het so in my stilligheid gedink dat dit jammer is dat ek nie geweet het dat Danie daar gaan uithardloop nie en het in die ringting van spoedvark Wickus geknik. As ons 2 sou deelneem sou ek nie noodwendig eerste gewees het nie, maar Danie sou laaste gewees het. Ek ry immers gereeld bergfiets (waarin heuweltjies soos hierdie kaf gedraf/ry word) en ek speel gereeld muurbal. Dit sou helaas onregverdig wees om Danie uit te daag want hy het dit immers reeds gedoen en sou dus vol verskonings wees as hy nie wen nie…

duin
Duin 7 in Namibia se Moses (want hy is hier)!

Op een of ander manier het die moontlikheid van ‘n werklike resies deur “die manne” wel onder bespreking gekom en Danie (die sucker) het ingewillig om saam met my en Wickus daar uit te hardloop. Ek sou my net nie steur aan sy verskonings dat dit sy tweede keer is nie en hom aanvat oor sy swak oordeel om dan nou weer te hardloop (en wie wil nou swak oordeel hê?). Op pad na die duin het ek 2 mense hoor praat van ys koop maar my fokus was op die duin. Ons het toe wel daar uit gehardloop. Ek sou julle graag meer daarvan wou vertel maar die realiteit is dat daar nog baie ander dinge die naweek gebeur het en dit is nie die moeite werd om julle meer te vertel van ‘n paar mans wat hulle soos kinders gedra nie (veral hy wat hom die 2de keer soos kinders gedra)…

kampioen
Ek en Danie in gemoedelike bui (dus voordat ons teen die duin uit is)

Nou goed laat ek dan tog iets sê voordat mense met kennis van programmering my blog delete. Sien toe ons wegspring stamp Danie (van kennis van programmering-faam) my onderstebo en hy trip Wickus wat onmiddellik voor hom was.  Nou goed, nou goed: die Waarheid sal ons vry maak. Danie: RESPEK. Hy het ons fair en square gewen al was dit die tweede keer wat hy daar uitgehardloop het. Die realiteit is dat ek heeltyd 3de was (nee man nie laaste nie), dat spoedvark Wickus wel aanvanklik voor hom was, maar dat Danie hom ingehaal en verbygevat het (en toe sy dansende de ja vu Tarzan/volkspele act ad nauseam bo-op die heuwel gedoen het). Danie nou dat ek weer daarin dink, dit is darem hoogs onwaarskynlik: erken nou maar dat jy anaboliese steroide gebruik (vanaf Rusland)!!  Dit kan verklaar waarom jy by die heuwel afgerol het (en helaas het ons in solidariteit ook daar afgerol – nie omdat ons breins met steroide bevlek is nie). My hare was vol sand 😦 Nou goed ek het nie hare nie, maar as ek sê wat vol sand was sal die blog gesensor moet word!

By die kamp het ek met ‘n yskoue Windhoek in die hand by die lang tafel gaan sit, om die middag se uiteenlopende en ego-kneusende gebeure rustig te oordink en te verwerk. My kinders wat gelukkig nie hier is nie dink darem nog ek is vinnig en ‘n held. Hulle moet nou net nie hiervan uitvind nie. Toe hulle kleiner was het ek vir elkeen ‘n lied gesing met slaapptyd. Hulle het gereeld vir my gesê hoe mooi ek kan sing en dat ek ‘n CD moet maak. Vreemd genoeg is die behoefte vir ‘n CD baie lanklaas verwoord! Kan dit wees dat hulle musieksmaak veragter het?

Terwyl ek rustig ontkneus met die bykomende las van afwesige CD in my denke kom iemand wat dieper beswaard is oorkant my sit. Sy moes my aangesien het as een of ander geestelike want sy het emosioneel uitgepak en uitgepak. Ek het selfbewus by my nek rondgetas om seker te maak dat een of ander poetsbakker, nie dalk ‘n priester se wit collar op my hemp geplak het nie (Vader Abraham). Danielle het vertel dat sy baie moeg is want sy moes wie weet hoe vêr stap (as die basis van jou naam Danie is gebeur dinge duidellik met jou). Ek het so in my stilligheid gedink dat die afstand vanaf die kanos darem nie sό vêr is nie, maar haar woorde het my gedagtegang onderbreek deur te verklaar dat Bucket hier weg is met sy bakkie om vir Jacques (haar man) te gaan help want die kar sit vas. Die kar sit vas? Ja, ons het ys gaan koop in Worcester om die wyn koud te maak en toe ons terugkom het die kar gaan vassit in die los sand, verklaar sy passievol maar ook met embarraserende glimlag. Ys koop? Ek het gewonder of hulle ‘n paar ton ys gekoop met dienooreenkomstige motor vassit gevolge, maar eerder nie gewaag om my gedagtes te verbaliseer nie.

Siende dat ek nog nie ‘n woord ingekry het nie (stil outjie wat ek is) noem ek toe maar as ‘n ysbreker dat dit jammer is dat ek nie geweet het hulle soek ys nie (uhm..) aangesien ek wel ys het. Die oomblik toe ek dit noem besef ek dit was ‘n fout. If looks could kill en die verontwaardigde “jy het ys!” kreet. Die pastorale trant van die gesprek was onmiddelik daarmee heen en die atmosfeer ysig. Ek was die oorsaak van die probleem – verbeel jou ek het ys. Haar glimlaggende embarrassing demeanour het verander na die van ‘n ysige (dog yslose) Ice queen. Ek het gewonder hoe ek hierdie situasie (en die naweek kon red) en besef dat ek darem nog ‘n ysige kaart in my mou oor het waarmee ek die ys kon laat smelt: haar behoefte om die Sauvignon Blanc koud te drink. Ek het toe maar die paar tree oorgestap na bucket (nee nie na Bucket waar die kar vassit nie) na my ice bucket. Danielle kon nie anders nie en het het die aanbod gedwee aanvaar – sy kon immers nou al  haar koue wyn geniet. Na ‘n paar slukke was my status as pastorale begeleier weer herstel, wit kraag en al en het sy begin uitvaar (uh deel) oor wanneer Jacques en Bucket dan nou terugkom met die kar, dit is netnou donker. Nie dat sy geweet hoe hulle gaan slaap nie want jy kan nie glo watse klein tentjie Jacques gekoop het nie! Hoe gaan hy daar inpas?

Hierdie was nie ‘n emosionele opmerking van iemand wie se naam met Danie begin en daarom gebeur daar net te veel in haar lewe op een slag met gevolglike irrasionele uitsprake nie. Dit was ‘n yskoue beredeneerde, rasionele en geldige opmerking. Jacques soos die foto getuig is nie die korste mens op aarde nie – ek het ook foutiewelik gedink voordat ek saam met Danie en Jacques gaan stap het, dat ek ook nie die korste mens op aarde is nie maar nou ja feite spreek vanself. Wickus wanneer gaan stap ons weer? Die klein 2persoon tent waarna Danielle verwys het kon dalk bietjie knap vir Jacques gewees het!

_20150808_132944_4378
Ek moes maar eerder op’n klip gestaan het…(bo-op) Victoriapiek

Danielle het oor baie dinge gesels en ek kan nie als onthou nie maar o.a. ook vertel dat slange nie haar beste vriende is nie en dat swem in die rivier vir hierdie rede nie vir haar ‘n opsie is nie (sê mos pastorale gesprek). Met Jacques se aankoms het sy hom omhels en alle vassit(letterlik en figuurlik) en frustrasie was vergete en het hulle met sterretjies in die oë vertel hoe hulle ontmoet het. Later die aand het Danie se tuisvervaardige chilli sous die aand en gesprek (verder) verwarm en daar is heerlik gesels en gelag (en natuurlik is die sappige beeshaas verorber – steak uber alles)! Dankie my vrou dat jy net die helfte van jou beeshaas kon baasraak.

die uwe
Vroeer die dag is daar o.a. geluilekker en gestokkielekker

luilekkerDag 2

ontbyt
‘n Sjef kry ook al die aandag. Albertus ek sou nie vir Heike so dophou nie – haar man het swartbelt in karate!

Met Sondag se banting ontbyt (hoë vet – geen vitamiene) agter die blad en kano onder die boud is daar voort gevaar en voortvarende gesprekke gevoer. Verskeie watergevegte is onderbreek met rustige en selfs ernstige oomblikke, waar daar soms selfs sense gepraat is met ondersteunende oomblikke van diep ernstige watergevegte, uit die aard van die saak.

Watergeveg
Wickus in aanvallende bui met anonieme GoPro besitter in voorgrond
Hoofkarakters
Drie sentrale figure van die naweek, Albertus, Danielle en Jacques. Albertus stop die bote vir die nappy run wat obviously vreeslik snaaks is.


Die foto van die groep wat by die nappy run geneem is (reddingsbaadjie onderstebo aangetrek soos doek) herinner mens daaraan dat al die groeplede eens op ‘n tyd nappies gedra het en van die ander oppad is om moontlik weer nappies te dra iewers in die toekoms… Ek verwys bloot na naweek van 6 Februarie 2016, nie na die gevolge van ouderdom nie! Na intense debat met myself en nadat ek een oggend in Spreuke gelees het: “behou die takt en oorleg my seun” het ek besluit om die visuele takt te behou en nie die nappyrun groepsfoto in die blog te plaas nie. Die nappie run is natuurlik vet pret.  Ons haak bymekaar in en wriemel soos slange deur die water in ‘n nou snelvloeinde systroom van die rivier.  Dit is deur almal geniet wat nie bang vir slange is nie.

nappy run

By die boom met die Tarzan bobbejaantou-agtige behangsel (ons doop hierdie area sommer Tarzanië) is onsuksesvol probeer om te gil/kreun/juig (wat doen Danie nou eintlik), soos tydens sy duin 7 belewenis, maar die adrenalien was net nie genoeg nie. Jacques (van Danielle se man faam) is egter die onbetwisbare wenner hier en het herhaaldelik die water triomfanklik gekloof na indrukwekkende swaaie in Tarzanië. Hy het hom nie laat afskrik deur die slang wat ons in die water gevang het en aan die boom vasgeknoop het om as tou te dien nie…

Met die wegvaar het my en Susan se kano vir tydjie saam met die gids Albertus se kano gekuier en Susan het hom gepeper met vrae – Albertus, nie die kano nie. Het iemand al seergekry op so ‘n naweek? Ons was verbaas om te hoor dat iemand al oorlede is. ‘n Man wat aan epilepsie ly het te veel gedrink, ‘n aanval gekry in die omgewing van die brug (waar die water diep is) en oorboord geval. Sy jolige vriende het nie gou genoeg reageer nie. Hy is onder die bruin water in en polisieduikers het hom uitgehaal. Dit was nog in Bucket as gids se dae en Albertus se pa het glo oneindige probleme daaroor gekry.

Op die vraag of hulle slange in die rivier kry was sy antwoord dat dit nogal gereeld gebeur! Hy het vertel van die slang wat tussen 2 kanos vasgevang was en toe probeer om op die een te klim want hy dink dit is die wal. Het hy dit reggekry? Wat was die mense se reaksie? Die kano was verby voordat geelslang sukses kon behaal en gelukkig was dit “earthy” mense en hulle het die slang net so gekyk. Ek het gewonder hoe earthy ‘n sekere anonieme individu wat met Jacques getroud is, sou reageer het. For that matter hoe sou ek reageer het?

Ek het wel ook naakte vrees aanskou, erger as wat enige slang kan veroorsaak. Die anonieme vriend van Danie se seun Tertius, was heel naweek heel ingenome met sy GoPro, waarmee hy die vaart verfilm het. Die kamera was voor op die kano gemonteer. Hulle het 5 meter vanaf my gevaar en dit is asof dit in slow motion gebeur het. Die kano is onder ‘n tak op dieselfde hoogte as die GoPro deur en almal insluitende die 2 het gesien daar is probleme maar hulle was magteloos om iets daaraan te doen. Die Gopro is onseremonieel deur die tak in die water gestamp. Op daardie plek is die rivier diep en vloei dit sterk. Anonieme vriend se body language het metamosfose ondergaan van sorgeloos na hoog gestres. Dit was sy pa se se GoPro wat die naweek aan hom geleen is met die onderneming dat dit veilig sal terugkom. ‘n Ongemaklike gesprek het vir hom gewag met sy pa….

Die sinnelose oefening is begin om in die bruin water te duik om die GoPro te probeer vind. Alhoewel ek dit nie hardop gesê et nie, sou dit beter gewees het om vrede met die onafwendbare te maak en letterlik ‘n duur les te leer. Ondertussen het verskeie van die volwassenes begin bid dat die kamera gevind moet word. Ek sou erken dat ek nie een van hulle was nie (wat was die kans?). Ek het met die kano aangery om die res van die groep (wat onbewus van drama agter hulle is) te gaan waarsku dat die helfte van die groep laat gaan wees. Wat ek nie geweet het nie was dat die kamera met my aankoms by die laagwaterbrug en die res van groep reeds gevind was en dat hulle oppad is.

Heike onthou haar vreugde toe Tertius met GoPro in hand geklem arm omhoog uit die water kom. Die kamera het afgesak en in die mik van ‘n tak gaan vassit van dieselfde boom wie se tak die drama veroorsaak het. Die onwaarskynlikeid dat dit sou gebeur maar ook dat dit gevind sou word is uiters skraal. Vir verskeie redes moes Tertius onmiddelik BBF (best friend forever) status bereik het. Ek het anonieme vriend dopgehou toe hulle kano by die einde aangekom het. ‘n Lawwe maar dankbare glimlag was op sy gesig afgeëts.  Die bemarking vir die kamera word gedoen onder die naam GoPro HERO, met die implikasie dat jy ‘n hero gaan wees as jy vir al jou vriende wys watter amazing goed jy verfilm het. Miskien moet iemand vir G0Pro inlig dat jy ‘n groter held is as jy ‘n HERO vind.

Tertius die held
Man der manne – held der helde, maar ‘n paar bevoorregtes mag hom Tertius noem!

Dit het my herinner aan my eie dankbaarheid. Hierdie was die eerste roei-naweek sedert 2012 – tot en met daardie stadium was ek en Danie die enigstes wat by al die naweke was. In 2014 was my pa in die hospitaal en ek het vir Danie gesê dat ek gedring voel om vir my pa in Oudtshoorn te gaan kuier. Dit was die regte besluit – die laaste keer dat ek hom gesien het. Ek onthou ook toe ek paar weke daarna by die werk se koffie area aangekom het en besluit het om hom te bel terwyl ek wag vir die koffie (my pa het het ondertussen herstel en die dokter het gese hy kan nog jare lewe). Tydens die oproep was van sy laaste woorde aan my: “ek is lief vir jou en trots op jou”. Dit was spesiaal want as kind het mens dit nie altyd beleef nie.  Die volgende dag is hy skielik oorlede.

In 2013 was ek in die hospitaal tydens die Breede. Dit was na ‘n pulminale infarksie (‘n stukkie long gaan dood omdat ‘n bloedklont die bloedtoevloei wegneem). Op daardie stadium as baie fikse en baie “gesonde” persoon, wat onder die wanindruk was dat ek verouder soos ‘n goeie rooiwyn, was dit nogal ‘n skok om na die cat scan te hoor dat hulle my nie gaan toelaat om terug na my bed te stap nie. Maar dit sou tragies gewees het as ek net gesond sou geword het. Ek het die genade beleef dat Jesus Christus Hom weer aan my openbaar het. Hierdie naweek het my weer laat besef dat ons (nee ek) so maklik ons menswees kan baseer op dit was ons bereik of die dinge wat ons het. My hero is dikwels ekself terwyl my hero die Here moet wees.

Lees meer oor wat in die verlede gebeur het in in o.a. :

Hoe gaan dit met Abrie? Wel dit hang af wanneer jy vra

Priceless flowers in a Glacier

‘n Katedraal vir die ego

Hier is skakels na die oorspronklike blogs oor die Breede wat deur Danie geskryf is:

Feb 2008 Die eerste keer op die Breede

April 2008 – Die Breede te na aan die winter.

Feb 2011 – Terug-op-die-breede.

And now for something completely different. Die Jouberts was bevoorreg om te gaan Kruger en baie diere baie naby te beleef. Gaan loer gerus by:

Close encounters of the Kruger kind

Ek is ‘n dankbare mens.

Kruger collage

Advertisements

One thought on “Die sport van mindere mans (Breederivier roei 2015)

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s