Die dag toe Tertia in ‘n man verander het…

Na vele beproewinge op dié dag verander Tertia boonop in ‘n man. Maar laat ek begin by die begin.

Dit was ‘n lekker stuk biltong, totdat my kiestand verbrokkel het. Helaas beteken dit dat biltong nie meer dieselfde bekoring vir my inhou nie.

DSCN3915
Ek het hierdie foto geneem op die plaas Oewerzicht naby Greyton. Die terrein veroorsaak amper surrealistiese patrone. Ek is van mening dat ‘n koringland meer fotogenies is as ‘n blomkoolland!

Dit is natuurlik so dat sedert banting, koring self ook nie meer dieselfde bekoring inhou vir Tim Noakes en Toortsie nie, maar ek sal op ‘n ander dag die banting ondersteuners se siel met banter uittrek. Ek sluit dus hierdie onderwerp af deur te ontken dat ek besig is om ‘n boek te skryf waarin o.a. afgevra word of die kool die sous werd is en of die kool in koolhidraat nie dalk meer werd is nie (en of die boom van kennis van goed en kwaad ‘n koolboom was!). Alles wat vir of teen banting gesê word kan natuurlik nie vir soetkoek of banting roomys opgeëet word nie. Iets wat ek nie kan verstaan nie is waarom die banting crowd opgewonde raak oor al wat kool en blomkool, maar as die kool HIDRAAT in het, raak dit ‘n bitter pil om te sluk. Hidraat beteken water; wat is fout met kool en water (behalwe nou vir die smaak – kom ons gooi suiker by).

Ai volwasse aandag afleibaarheid is ‘n vreeslike siekte…. hierdie blog gaan eintlik oor ‘n verbrokkelende tand en dié se kousale gevolg – ‘n regsterm wat ek iewers raak gelees het, wat eintlik maar beteken one thing lead to another.

Ek spring tot by die tandarts se kamers waar hy onmiddelik die senuwee doodspuit en die tand tydelik stop.
Meneer Joubert  hierdie tand moet deur ‘n kaakchirurg verwyder word (ek is nie groot op formele aanspreekvorms nie maar met ‘n verbrokkelde tand sorg jy dat jy by die eerste en beskikbare dog onbekende noodtandarts uitkom en laat hom toe om jou te noem net wat hy wil).
Mnr Tandarts, kan jy die tand nie red nie?
Hy kyk my aan asof ek beweer dat Tim Noakes en Toortsie gesê het dat die kool in koolhidraat maar geëet mag word net nie die hidraat nie. Asof die splitsing van die atoom makliker sou wees as die heelmaak van ‘n tand.

Ek besef dat ek hierdie een gaan verloor – ek weet immers wat met die tand gebeur het  en wil by hom weet waarom hy nie die tand kan trek nie (want ‘n kaakchirurg gaan my meer kos dink ek, maar sê dit nie). Ek benader die onderwerp tong in die kies – baie plek vir tong aangesien minder tand. Hy moet kan sien dat ek dit goedig bedoel maar hy was seker reeds geïntimideer deur my vraag of hy die tand kan red.
“Mnr Tandarts het jy dan nie vertroue in jou vermoëns nie, haal die tand self uit”. Maar toe vererg hy hom en mnr Joubert my glad nie.
“Dit is omdat ek verantwoordelik genoeg is, dat ek die vrymoedigheid het om jou te verwys na iemand wat die instrumente het om so ‘n bros tand te kan uithaal sonder dat die kakebeen beskadig word”.
Mnr. Joubert was verantwoordelik genoeg om nie skertsend te sê: a bad workman blames his tools…

Dit is ‘n week later. Ek sit in die tandartsstoel by die kaakchirurg se kamers (wat amper so lank soos ‘n saal is). Ek het my reeds warm gemaak op hierdie koue wintersdag by die houtkaggelvuur in die wagkamer wat net so wel die voorportaal van ‘n boutique hotel kon wees. Ek vra die chirurg wat hy anders as ‘n tandarts gaan doen om die tand te verwyder (soek waarde vir my geld) en word ingelig dat hy die tand en wortel stukkie vir stukkie gaan uitsaag! Ja ek het ook gedink dit klink prettig. Hy druk herhaaldelik ‘n naald vanuit alle windrigtings in my mond sodat ek hom nie pla as hy begin saag nie. En toe stap hy na die deur met die verskoning dat ons my mond kans moet gee om te verdoof (eintlik is hy op pad na die pasiënt langsaan wat minder vrae vra).

Vir die eerste keer kry ek kans om die omgewing om my te bespied. Daar hang verskeie geraamde fotos van hom by die viswaters en spesifiek die sport van intellektuele visvangers – forel hengel, vlieë en al.  Hy spandeer duidellik baie van sy vrye tyd hiermee.

Kunsvliee is 'n wetenskap op sy eie. Elke selfrespekterende forelhengelaar maak dit self.
Kunsvlieë is ‘n wetenskap op sy eie. Elke selfrespekterende forelhengelaar maak dit self.

Na ‘n paar minute kom sy assistent terug. My mond is reeds dik maar ek is darem verstaanbaar. Om haar dag op te kikker vra ek haar of die dokter darem weet dat ‘n tand uithaal nie dieselfde is as om ‘n forel uit die viswaters te haal nie? Sy kyk half ongemaklik na my  en agtertoe verby my, waarop ‘n mansstem geamuseerd antwoord dat dit moeiliker is om ‘n forel te vang. Wat ek nie besef het nie, is dat hy by die agterste deur ingekom het…  Ek wou eers ge-embarasseerd wees, maar nou ja as hy voor ingekom het, het ek dit heel moontlik vir hóm gevra en lag toe maar net (alhoewel die lag weens die verdowing soos ‘n roggel geklink het).  Hy druk toe hard met iets in my mond (dalk aspris) en vra of daar nog gevoel is. Ek onthou dat ek onwillig was om dit te erken alhoewel daar bepaald gevoel was maar gelukkig is my linkerbeen intelligenter as ek en het onwillekeurig penreguit geskop waarop ek instemmend geknik het op sy vraag of ek nog pyn voel.

Dit het veroorsaak dat nog verdowing ingespuit word en 10 minute daarna was ek nie meer in staat om verstaanbare opmerkings oor visvang of enigiets anders te maak nie. Die chirurg het na alle waarskynlikheid goed gevaar in houtwerk op laerskool want die tand is sonder moeite uitgesaag (ek was verlig dat ‘n chain saw nie gebruik is nie). Hy begelei my tot by sy sekretaresse en lig my (weer) in oor die belangrikheid van ‘n implantaat. Kan nie presies onthou hoekom dit so belangrik was, nie maar ek dink dit het gegaan oor die swak rand wat vakansies in Europa baie duur maak. Vas onder die indruk dat sy bemarking geslaag het (en dit het), laat hy my by die sekretaresse met die opdrag om oor 4 maande vir my ‘n afspraak  te maak daarvoor. Sy het nog inligting benodig maar shame sy was bietjie stadig van begrip en kon nie verstaan wat ek sê nie.  Wat ek ookal gesê het, het haar vraend na my laat lyk. Sy stel toe voor dat ek haar oor ‘n week skakel – ek het nie en het steeds nie ‘n implantaat nie.

Terug in die kar skrik ek vir die persoon in die spieeltjie, my wang en lippe was rêrig erg opgeswel en ja my spraak heeltemal verwronge.  Ondertussen kry ek ‘n whatsapp om my dogter by die ekstra wiskunde klasse te gaan oplaai, dit begin te reën en kort daarna te hael. Dit ook nog, gaan my tand en motor se ruit op een dag uitgeslaan word? Gelukkig is die hael klein maar dit hael geweldig baie en dit lyk later letterlik wit soos sneeu (nog  nie voor dit of na dit so iets in die Kaap gesien nie). Ek verminder spoed en met die rooi verkeerslig voor stop ek op ‘n veilige afstand van die motor voor my en tog hoor ek ‘n onverklaarbare doef geluid saam met die kar wat ruk.

Die persoon agter my het in my kar vasgery!! Dit was regtig nie wat ek op enige dag nodig het nie maar veral nie nou nie. Seer mond/reen/hael/issues/slep/ongerief. Die dame het vreeslik verskoning gevra en ‘n paar keer gesê het dat die kar nie wou stop nie toe sy rem. Haar kar het redelig sleg gelyk (in fender bender konteks), maar slegs die X-trail se tow bar was gebuig. Dit was egter toe ek begin praat het dat sy heeltemal verskrik gelyk het. “Mhu wha wo lja”. Ek vermoed my slegs semi- verstaanbare roggel geluide het het my baie kwaai laat klink en ek het maar net probeer verduidellik dat my tand uitgesaag is en dat ek op pad is om my dogter te gaan haal. Sy onderneem om dit by polisie kantoor aan te meld.

Met ‘n omgekrapte gemoed ry ek daar weg om ‘n kwartier later by die huis aan te kom waar ek my dogter moet oplaai. Ek sien ‘n goeie vriendin Tertia se grys Polo Vivo voor die huis met haar binne in (haar dogter is ook by die ekstra klasse). My gemoed raak effens ligter. Ek gaan nou my lot by Tertia bekla en sy sal verstaan (of maak of sy verstaan – sy is goed met menseverhoudinge). Dit reen nog effens en die vensters is erg opgewasem. Ek loop tot by die kar en druk my neus omtrent teen die venster om haar te kan sien. Met ‘n skok besef ek dat ‘n onbekende man sentimeters van my af vir my staar. Hy maak die venster oop en ‘n vraende blik veel erger as die wat ek reeds vandag beleef het staar my aan. Ek het nie ‘n keuse nie, ek sal moet verduidellik: “Mhu wha wo lja”

Wat is die logaritmiese moontlikheid dat in een middag, jou tand uitgesaag word, iemand in jou vas ry en ‘n vriendin in ‘n man verander (hy het presies dieselfde model en kleur motor en sy dogter het juis op dié dag begin met ekstra wiskunde klasse).  Die aktuaris wat dit bereken moet nog gebore word!

As jy hierdie geniet het gaan loer gerus by Die Sport van mindere mans…

Advertisements

21 thoughts on “Die dag toe Tertia in ‘n man verander het…

  1. Ek kan nie onthou wat sy naam was nie, maar ek het nogal oorweeg om hom Tertius te noem in die blog, maar dit sou te dik wees vir ‘n daalder. ‘n Goeie vriend van my Danie (waarvan ek in die sport van minder mans en Dnkers en Eters praat) se seun se naam is juis Tertius. Die “Tertius” van die blog wat kort gelede nog Tertia was het nogal uitgeklim en kom kyk hoe lyk die towbar en raad gegee hoe om dit te reg te maak.

    Like

  2. Hehehehe, hoe lekker giggel ek vir jou!

    Kyk, ek sou my kop oopgeval het en bebloed vir die berge gehardloop het as iemand vir my sê hulle gaan my tand uit my kop UIT SAAG! Genade.

    My man het hoeka gister sy een kiestand gebreek. Vader weet alleen hoe. Maar hy is middeldeur en die een stuk is by die toilet afgespoel. Natuurlik was EK histeries en het my vriend gebel wat ook ‘n tandarts is – natuurlik het my man vreeslik gekeer en gesê dis nie seer. Ek het 10 min gelede ‘n oproep van hom gekry in so klein kerm stemmetjie dat ek asb ‘n afspraak moet maak by Pieter. SO GOU AS MOONTLIK!

    😆

    Liked by 1 person

          1. Jinne, laat ek jou nou vertel, NET-NET.

            En was dit nou vir jou ‘n storie na die tyd? “Ek kan nie SO by die oefening aankom nie, dit lyk of ek ‘n beroerte gehad het. Tot my neus is geswel.”

            My gunsteling was natuurlik (in so teem stemmetjie): “Alle mense wat regs is kou ook regs. Nou is ek regs en ek moet links kou.”

            Ek het my werklik doodgelag. Ek het maar vir pappa ‘n slaappil gegee en hom in die bed gesit dat ek in vrede kan tv kyk. 😆

            Liked by 1 person

          2. Hie hie, die regs wees links kou ding – alhoewel ek empatie daarmee het – met soortgelyke emosies wou ek my hart teenoor Tertia uitstort en toe verander sy in vreemde man! 🙂 🙂 🙂

            Liked by 1 person

    1. Vir my ‘n voorreg om jou te laat lag seegogga (ek moet opmaak teenoor onderwysers, wat ek oor die algemeen nie laat lag het op skool). Ek het toevallig gister by bloggie gaan rondkrap en gesien hoe dit jou hart seermaak as mense nie by jou gunstelinge rondkrap nie. Het die aangrypende storie gelees van die seun wat weens sy hart dood is – ‘n gusnteling van jou in wording ek hoop

      Liked by 1 person

  3. Lekker gelag, Abrie. Oulik geskryf. Maar sowaar, ek sou nie grappies met ‘n tandarts maak net voor hy met sy saag naderkom nie. Na die tyd, miskien. Maar voor die tyd? Hy hou jou dan as’t ware gyselaar in daardie stoel. Jy moet ‘n dapper man wees.

    Like

  4. Nou hoe het ek voorheen hierdie inskrywing gemis? Ek is so bly WordPress het nou die Related Reading views op die Leser ingebring, want ek het nou my dag begin met ‘n lag, al het jy dan nou so ‘n lydsame weg gevolg om deur jou dag te kom. Nou weet jy hoekom het ek my tande laat trek onder narkose. Het Tertia darem jou verduideliking (van hoe sy ‘n man geword het) verstaan? Haha, dis komieklik.

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s