En toe skeur hy die Bybel

1992. Ons is ‘n groep studente (112 as ek reg kan onthou) van regoor Suid-Afrika wat opleiding kry by Hugenote Kollege, Wellington. Schalk van der Merwe het verlede jaar chemiese ingenieurswese afstudeer by Stellenbosch. Schalk is nie baie spraaksaam nie, maar wanneer hy praat kan jy maar luister. Hy beskik ook oor ‘n droë humorsin en dit in kombinasie met sy intellek het daartoe gelei dat iemand hom die bynaam Wysheid gegee het. Ek vra een middag na opleiding vir Wysheid of hy kom saam draf. Hy kyk my aan asof ek die mees onlogiese ding denkbaar gesê het en reageer met: “Abrie, ek het mos ‘n kar”!

wysheid

Wysheid help ons om die skyfiereeks “Love in a twisted world” wat op 3 skerms gelyktydig vertoon is voor te berei. Cutting edge technology 🙂

Na al die jare  ontmoet ek sowat 6 jaar terug weer vir Wysheid en ek vra hom of hy nog kan onthou dat ek hom gevra het om saam te draf – sy reaksie: “Ek het nog steeds ‘n kar”.

Terug in 1992. By Hugenote kollege het ons opleiding gekry vir uitreiking onder jongmense. In hedendaagse terminologie sal dit seker as ‘n GAP-jaar bekend staan. Diensjaar vir Christus het verskeie spanne en ons was die SCAS (Sport vir Christus Aksie Suid-Afrika) skole-span. Ons span het regoor Suid-Afrika getoer in ‘n minibus, ‘n week op ‘n slag by ‘n skool gebly en via “Love in a twisted world”, sport, dramas, lesings, getuienisse en laf wees na die kinders uitgereik.   Alhoewel ons in Stellenbosch gebaseer was, het ons letterlik van Pretoria tot Pietermaritzburg tot Pofadder getoer.

Dit is Julie, ons breek vir ‘n week en  ek gaan vir my ouers kuier in Oudtshoorn en ryloop soontoe.  ‘n Jong man van soortgelyke ouderdom as ek, laai my op en vra my wat ek doen. Elke persoon wat my opgelaai het, het dit gevra en ek dink nie hulle het heeltemal verwag wat aan die anderkant van die vraag sit nie – onbewustelik ‘n uitnodiging om evangeliseer te word! Ek vertel hom wat ons doen maar deel ook met hom wat Christus vir my beteken. Ek kan nie lekker sy reaksie pyl nie. Is hy ongemaklik met wat ek sê? Wil hy nie hoor wat ek sê nie?  Ek besluit om die atmosfeer ligter te maak en vertel hom die storie van die Chemiese ingenieur by ons wat vir my gesê het hy het ‘n kar. Half emosioneel verbaas hy my met die vraag of sy naam Schalk van der Merwe is?

En daar vertel hy sekerlik een van die mees merkwaardige verhale wat ek in my lewe gehoor het.  Schalk was hulle kringleier in die koshuis op Stellenbosch. Alhoewel hulle sy kringe bygewoon het was dit omdat Schalk hulle altyd aangepor het om te kom en in die kringe het hulle maar net gesê wat (hulle dink) Schalk wou hoor. Hulle het “‘Christinize” gepraat, die regte geestelike dinge gesê, maar die volgende dag net weer aangegaan met lewensstyle wat direk weerspreek het wat hulle die vorige aand gesê het.

Een aand vra Schalk hulle om hulle Bybels oop te maak by hulle gunsteling vers. Dit was ‘n bietjie van ‘n geskarrel want iemand wat ‘n geestelike aktiwiteit as ‘n las sien, gee nie eintlik aandag aan Bybelverse nie.  Omtrent almal het die Bybel oopgemaak by Johannes 3:16.  Schalk het hulle Bybels geneem en hulle het geskok toegekyk hoe Schalk die bladsy met die vers uit elkeen se Bybel skeur. Hy het hulle ingelig dat hierdie hulle laaste kring is, maar wanneer hulle wil reageer op God se liefde en Jesus Christus wat vir elkeen van hulle gesterf en opgestaan het, kan hulle die bladsy by hom kom haal.

Die barmhartige samaritaan wat my opgelaai het, het vir my gevra of ek Schalk se kontakbesonderhede het – hy wil sy bladsy gaan haal!

My Bybel oop by psalm 73. Sien blog

My Bybel oop by een van my gunsteling psalms Ps 73

Sien Wherever I leave my hat is my home vir meer oor psalm 73

15 thoughts on “En toe skeur hy die Bybel

    1. Schalk was nie deel van ons span nie (hy wou nie hardloop nie 🙂 ). Ek het later die jaar met hom daaroor gesels. Maar ja het het nog sy bladsy gehad. Wysheid het vir my gese dat my samaritaan die enigste was wat nog die bladsy moes kom haal (hulle was 6 in kring).

      Liked by 3 people

  1. Ek het vanoggend hierdie blog kom lees en dit het diep getref. Sien ek het voorheen dit ook gelees…. en kommentaar gelewer. Vandag het dit egter met my gepraat.

    Like

  2. Sjoe Abrie – jy het my nou ver teruggeneem met hierdie storie. Ek het “toevallig” hierop afgekom. Ek wil ook net noem dat ek toe daardie kar verkoop het…..ek het nou ‘n bakkie so dus hoef ek steeds nie te draf nie….😁
    Dit was wonderlike tye en ek is nounog dankbaar vir die grondslag wat Jesus tydens diensjaar gelê in ons lewens. Ons het so nodig om ‘n Ware Hoop te hê in hierdie tye, om ‘n vry lewe te kan lei sonders vrees, angs en kwaad.
    Jesus is getrou!
    Baie groete,
    Schalk

    Liked by 1 person

    1. Hi Schalk baie dankie vir hierdie kommentaar. Jammer dat ek nou eers antwoord maar ek was besig om te draf😁.
      Dit is vir my merkwaardig dat jy nou kommentaar lewer. Net ‘n week terug was ek in opleiding en die opleier het my herken. Sy was in standerd 6 gewees toe ons by hulle skool was, sy sê ek het vir haar gebid en dat sy in die toekoms baie teruggedink het aan daardie dag! Ek is dankbaar dat ek die genade kan beleef om hierdie terugvoer te kry.
      Maar die mees merkwaardigste storie waarin ek betrokke was bly iemand anders se storie – die persoon wat wys genoeg is om nie te draf nie!

      Seën vir jou Schalk

      Like

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.