Die mooi jong Amerikaanse dokter, die rugbesering en die Kangogrotte

“Do not try and move him,  he has injured his back”.

Adventure tour Cango Caves

Ek was meer as 25  jaar terug ‘n gids en alhoewel die deel van die grot nou as die Adventure tour bekend staan het die terminologie wat gebruik word nog nie verander nie

As student wie se ouers op Oudtshoorn kom aftree het, werk ek vakansies as gids by die Kangogrotte. Dit sal sekerlik moeilik wees om te glo, maar as jong manlike studente het ons nogal die dames op die toere raakgesien… By die ysterleer, wat o.a. na die Skoorsteen lei, het ons soveel moontlik mense probeer bangpraat. Na die leer gaan mens eers deur “die Tonnel van Liefde”. Dit is ‘n baie nou tonnel waar jy moet buk, draai en teen die wande skuur om daar deur te kom. Terwyl ek in die rigting van die raakgesiendes knik kondig ek aan:  “It would be irresponsible of me, not to warn the ladies that we will now be entering THE TUNNEL OF LOVE, so called because it squeezes you all over…”

Hierdie meisie is my vrou. En hierdie is geneem 19 jaar nadat ek ‘n gids was

“Do not try and move him,  he has injured his back”

Hierdie spesifieke raakgesiende mooi jong Amerikaanse meisie wat bostaande woorde ge-uiter het, het egter pas ‘n “statusverandering” ondergaan. Dit was nie doelbewus nie, selfs huiwerend  (nie vol Amerikaanse bravade in die Donald Trump styl nie), maar sy het seker besef sy het nie veel van ‘n keuse nie. Sy is ‘n toeris en toevallig ‘n dokter wat sien hoe ‘n volwasse man brul van die pyn.

Ons is by die Posbus, maar hier word mense gepos. Anders as die algemene aanvaarde maar foutiewe aanname is die Skoorsteen nie die nouste formasie in die grotte nie. Wanneer jy in die skoorsteen opkyk sien mens die 2 binneste wande en daarom lyk dit nou. Die skoorsteen is egter in ‘n S-vorm en daar is genoeg ruimte. Maar die vashouplek is beperk en maak dit moeilik om daar op te klim, wat die illusie van ‘n nou tonnel vergroot. Op plekke is die Tunnel of Love nouer as die skoorsteen, maar die nouste is die Posbus. Nou is seker nie die regte woord nie.

Die Posbus is wel breed (sien foto) maar nie baie hoog nie. Indien ‘n man werklik groot gebou is kan hy nie daar deur nie (ek praat groot soos in rugby-slot, van die dikte van sy borskas). Dit het al gebeur dat mans by die Posbus moes omdraai en weer afgaan deur die Skoorsteen.

My dogter Elrike in 2009,  6 jaar oud en binne in die posbus. Sy was die hele toer baie braaf maar hier ontwyk die braafheid haar.

So ‘n groot geboude (fokus nou ek praat van sy borskas, nie sy boude nie), het gesukkel om deur die posbus  te gaan en ek vermoed hy het ‘n paniek aanval gekry maar ook gebrul van die pyn.  Ons wou hom probeer skuif, maar dit is toe wat die mooi jong raakgesiende Susanna haar mediese agtergrond openbaar en vir ons versigtig inlig om hom nie skuif nie want hy het moontlik ‘n rugbesering. Hoe op dees aarde kry mens iemand uit die grot met ‘n rugbesering? Dit is al moeilik genoeg vir so groot man om op eie stoom deur die Tonnel van Liefde te gaan omdat dit so nou en smal is. My mede-gids het daar gebly (hy was meer senior en wou seker maar sy mooi jong Amerikaans oefen) en ek is terug kantoor toe om ‘n dokter uit Oudtshoorn te reël en te verduidelik aan bestuur en is daarna weer terug na die Posbus.

Susan (my vrou) gaan haar derrière moet draai anders gaan sy die nie deur die posbus maak nie

Die dokter, sy tas en nog 4 gidse het na sowat 90 minute daar aangekom. Anders as ons het hy feitlik sy Amerikaanse ewe-knie ignoreer(hy was te oud vir haarn nie in sy fleur soos ons nie). Na ‘n paar vrae en druk hier en daar het hy verklaar dat dit ‘n spierspasma is.  Op die punt het Susanna ongemaklik verklaar dat sy ‘n finale jaar mediese student was en nog nie al de ondervinding het nie. Geen ewe-knie; the magic was gone, maar sy was darem steeds baie aantrekliker as die dokter! Genoemde dokter het vir Faeez Taliep (sien koerantberig) gesê dat hy hom ‘n inspuiting gaan gee vir pyn wat sy spiere ook sal laat ontspan, maar dat hy na sowat ‘n halfuur aan die slaap sou raak. Faeez is versigtig deur die posbus (hy was nie te groot nie)  deur die Tunnel of Love en selfs nog verder aan tot deur die Rumatiek-tonnel. Daar het die dokter vir hom gesê om op die draagbaar te klim  en het ons 6 gidse hom begin dra. Faeez het seker binne ‘n minuut aan die slaap geraak.

Die verligting by ons was groot, Stres het plek gemaak vir joligheid. Ons het spontaan begin saamsing. Dit was in die dae toe Castle bier se bemarking nog gekoppel was aan Charles Glass:

When we drink Castle
We’re filled with admiration
For Charles Glass whose brewing class
Won fame across the nation

Ons stap om die draai, al singende en glimlagginde en sien hoe ‘n toergroep ons aanstaar asof ons mal is. Wat ek nie geweet het nie is dat ‘n ambulans letterlik voor die ingang van die grot gestaan het. Al die toeriste sou daardeur intimideer gewees het (wat gebeur hier binne!?). En hier stap die gidse met ‘n lyk en hulle dink dit is ‘n partytjie!!

Koerantberig oor die voorval maar dit is nie akkuraat nie. Ons het hom nie geskuif nie en daar word niks van die Amerikaanse mediese student gesê nie (en nee haar naam was nie Susanna nie). Rudolf was wel een van die 4 gidse wat saam met die dokter ingekom het en is wel geopereer, maar hy was nie by toe dit gebeur het nie – ek vermoed dit is wat storie verwronge gemaak het, die oorvertel. Die hele episode het omtrent 5 ure geduur – hy het nie 5 ure vasgesit nie.

Kapenaar sit vas in Kango-grotte

Ek het ‘n blog gelees oor grotte wat my herinner het dat ek oor my wedervaringe in die Kango kan skryf (en daar kom nog). Op haar beurt is Kameel weer inspireer deur Scrapydo se toeka tokkel oor grotte.

22 thoughts on “Die mooi jong Amerikaanse dokter, die rugbesering en die Kangogrotte

  1. Ag dankie, ek het hierdie nou vreeslik geniet!!! Ek is nogsteeds baie dankbaar ek het op daardie klip bly sit en dit nie verder gewaag nie. En toe loop julle al singende met ‘n lyk!!! Lekker lag ek by myself. Sien uit na die volgende Kangogrot ervarings!!!

    Liked by 1 person

  2. Nee dankie, ek sal maar net daar op die Rooi Kol bly staan. Ek is absoluut gefassineer met die idee van “caving”, maar dis nie vir my nie. Ek het grootgeword daar in Namakwaland en my pa het ‘n ruk lank vir die OCC (O’okiep, Concordia, Carolusberg se se kopermyne) gebou aan die smelterye en kroeserye – darem alles bogronds. Destyds was daar baie ou uitgewerkte myne wat nie effektief afgekamp was nie en dit was natuurlik ‘n heerlike speelplek vir kinders, heeltemal onwettig en juis daarom soveel lekkerder. My broer, ses jaar ouer as ek, vertel hoe hy my altyd op sy skouers laat sit het om in die ou skagte af te klim. Ek is jammer, maar my brein het daardie herinneringe totaal uitgeblok en ek is vandag nog so kloustrofobies dat jy my met moeite in ‘n hysbak kry.

    Like

    1. Een van die moontlike toekomstige blogs is toe oom Luther Terblance wat Kango 2 ontdek ons deurgevat het tot Kango 4. dit is caving! Tussen kango 2 en 3 is daar 80 meter tonnel wat vol water is. Die water word uitgepomp maar daar bly water in die tonnel agter. op een plek moet jy jou gesig in die water druk om te kan deurkom. En ja ek ken die onwettige mynverkenning. In Germiston in die destydse Transvaal skoolgegaan, met mynhope en myne.

      Liked by 1 person

      1. Ek het ‘n bietjie gaan oplees oor die Kangogrotte na jou blog, want ek was verbaas dat dit so groot is. Die laaste keer wat ek in Oudshoorn was, was ek (gelukkig) swanger en het weer die toer misgeloop. Ek sien uit na die volgende blog, want dan kan ek ook die grotte “deurloop”, of kruip waar nodig.

        Like

  3. Sal maar namens jou in die grotte ingaan! Ek was ook op Tafelberg in verskeie grotte. Die Kangogrotte is ‘n kalksteengebergte en die grotte is horisontaal(by die skoorsteen is mens op dieselfde vlalk as die ingang alhoewel dit voel asof jy ondertoe beweeg). In sandsteengebergtes soos Tafelberg, is die grotte vertikaal af, sogenoemde climbers caves. Ek was ook in ‘n tin myn (soos ‘n grot) op die hange van Duiwelspiek maar dit is definitief ‘n toekomstige blog. Dit was saam met my beste vriend wat onderstussen ‘n klompie jare terug op ouderdom 37 aan breinkanker oorlede is,

    Like

  4. Wel, hier verklaar jy jouself toe onskuldig! Toe jý by die grotte gewerk het, was my dogter nog nie gebore nie, so dit was nie jy wat haar agtergelaat het nie. (sug van verligting)

    Like

  5. Dis nou te lekker om hier van jou grot ervaring te lees. Dankie vir die deel. Ek is bly jy het Toeka-Tokkel ontdek dmv Kameel. Ons is n lekker klompie gesellige ouens wat skryf oor eie ervarings. Hoop jy gaan nog meer vertel.

    Like

  6. Baie geniet om te lees dankie Abrie. Ek was een maal in die grotte in 1977 toe ek my basiese opleiding by die destydse Leër vrouekollege in George gedoen het. Jou vertelling het nou lekker nostalgie by my gekweek oor die tyd wat ek daar rondgekruip het.

    Like

  7. Ek het nooit geweet ek ly aan engtevrees nie, tot ek die dag deur daardie Tonnel van die Liefde is en die klipmure al die dapperheid uit my druk. Nooit weer nie. En ja, dit klink soos ‘n Amerikaner wat in daardie situasie bekommerd sal wees oor ‘n rugbesering. Onthou, hier in Amerika sleep hulle mekaar links en regs hof toe. Dokters is glo te bang om by ongelukstonele stil te hou.

    Like

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.