Ek is soms wel jaloers Johan

Wou eintlik hierdie week oor Scrappydo se Toeka Tokkel:  Byt wat ek nie gou sal vergeet nie, geskryf het (en ek gaan nog al is dit ook eendag uit die bloute).  Maar ek kom gister toevallig op Josh Daniel se weergawe van die lied Jealousy af, wat hy op Britain’s got talent gesing het. Dit is ‘n pragtige liefdeslied wat gaan oor die een party se jaloesie oor die lewe wat die ander nou lei. Maar Josh noem dat hy die lied anders interpreteer as die betekenis wat die groep Labyrinth daaraan gee. Hy dra dit op aan sy beste vriend wat oorlede is. In Josh se woorde:  the lyrics kinda say that I’m jealous that you’re happy without me and I see it that I am jealous that he is now happy in heaven and that he moved onto a better place and I can’t be with him”. Dit word met rou emosie gesing, luister gerus die skakel is hieronder.  Dit het my aan Johan Hough laat dink .

Ons het een aand na kerk ontmoet en net ge-click. Saam het ons diep geestelike dinge beleef (hy was ‘n gebedsmaat vir uitreikingskurses wat ek gedoen het) maar ons het ook wonderlike kattekwaad aangevang. My meisie, verloofde en later vrou was ‘n verpleegsuster wat elke 2de naweek gewerk het. Feitlik elke 2de Saterdag het ek en Johan berge en grotte in die Weskaap gaan verken. Dit was voor google earth en soms met lugfotos en topografiese kaarte wat Johan bestel het. Ek sal definitief nog oor hierdie stap-ervaringe en “ontdekkingstogte” skryf.  Johan is een van die skerpste mense wat ek ooit geken met ‘n fyn humorsin. Op ‘n stadium kon ons mekaar se sinne voltooi.

Nadat ek en Susan kinders gekry het, het die gereelde interaksie helaas afgeneem, met Johan wat nooit getrou het nie en die feit dat ons getrek het. Johan se lewe het ook aangegaan. Johan en ‘n kollega het ‘n beslote korporsasie besit wat korporatiewe videos gemaak het o.a. vir die maatskappy waarvoor ek gewerk het. Hy het verfilming en redigering gedoen  wat ook sy tyd beperk het. Ons het wel nog periodiek gaan stap maar ons kontak met mekaar was beperk.

Een aand in 2010 bel vriende wat naby Johan bly om te sê dat Johan in die geesteshospitaal Stikland vir akute depressie opgeneem is.  Ek gaan kuier die aand vir hom en daar tel ons weer al die drade op. Johan was egter nie so skerp soos gewoonlik nie en ek het dit aan die medikasie toegeskryf. Een aand het Johan geweldige pyn gehad en ek het hom hospitaal toe geneem nadat die ambulans te lank geneem het. Johan is met gevorderde 3de graadse breinkanker gediagnoseer.

‘n Week na sy diagnose is Johan terug na sy ouerhuis en moes die besluit geneem word of Johan die tradisionele kanker behandeling sou ondergaan.   Die spesialis het ons ingelig dat Johan nog 6 maande kan leef maar dat die behandeling hom nie veel langer gaan laat leef nie. Dit sou wel sy lewenskwaliteit laat afneem in die tyd wat hy oor het..

Drie egpare het as gelowiges, kollegas en vriende van Johan by my huis vergader om die behandeling te bespreek. Weens die breinkanker kon Johan reeds nie daardie besluit self neem nie, aanggesien hy radikaal agteruitgegaan het.

Daar het iemand genoem dat Johan se genesing van ons geloof afhang. Ek het rustig dog ferm gesê dat ek nie dink die God wat ons ken so manipulerend is om by die hartseer van die wat agter bly, boonop die selfverwyt te voeg dat hulle geloof nie sterk genoeg is nie.  Ons het teen medikasie besluit en moes dit met sy ma bespreek. Die volgende dag bel tannie Anna en sê dat Johan met my wil praat en ek hoor Johan se angstige stem: “Ek wil nie meer nie meer nie Abrie, asseblief Abrie ek wil nie meer, Abrie asseblief ek wil nie meer nie…”

Picture 039

Johan nadat hy ‘n brein scan ondergaan het. 3 weke daarna is hy oorlede op ouderdom 37

Terloops soos ons almal het Johan ook sy foute en issues gehad maar in Christus (nie uit onsself nie) word ons vergewe.  Huldeblyk wat deur die dominee voorgelees is –  sy ma het versoek dat ons dit nie self doen nie weens die emosionele aard van die begrafnis.   Ek plaas dit verbatim:

Ek en my vrou was op pad na X-blok (Tygerberg se onkologie -sentrum). Ek was moeg en geïrriteerd en ons het maar hak en tak teenoor mekaar reageer. Op daardie oomblik het ek definitief nie die regte ingesteldheid gehad om Johan te gaan bemoedig of te ondersteun nie. Daar aangekom was Johan se eerste opmerking – julle moet goed wees vir mekaar. Dit het gelyk of hy dit met sy hele wese sê.  Dit het inderdaad gevoel asof Johan hierdie woorde gesê het onder leiding van die Heilige Gees en my vrou het ook later bevestig dat dit ook haar belewenis was. Die pasiënt was besig om sy besoekers te bemoedig met ‘n bemoediging waartoe ons nie in staat was nie.  Die aand en in die dae wat volg het hy by herhaling ook verskeie ander opbouende dinge gesê soos:

  • dit is lekker om na julle te kyk,
  • dit is lekker om julle te hoor lag,
  • ek is lief vir julle,
  • julle is goeie mense
  • die Here gaan goed wees vir julle.

Soos wat Johan se gesondheid agteruit gegaan het, het die intensiteit waarmee hy hierdie dinge gesê het afgeneem. Nie omdat hy dit nie meer bedoel het nie, maar bloot omdat hy nie meer die krag gehad het om dit passievol te sê nie. Ek het besef dat Johan later nie meer die vermoë gehad het om te filter wat hy wou sê nie. M.a.w. hy kon nie meer soos ek en jy voorgee om dinge te sê wat ons dalk nie bedoel nie. Dit wat op Johan se tong geleef het was eg. Johan se woorde en denke was deurdrenk met die liefde van Christus.

Inderdaad het hy deel gehad aan die grootste wonderwerk ooit,  deurdat hy aanvaar het dat Christus vir hom gesterf en opgestaan het.  Nou klim hy berge saam met Jesus en verfilm hy die Liefde. Dit is nie meer nodig vir hom om te redigeer wat hy verfilm nie – dit wat sy kameralens sien is perfek.

‘n Vriend en kollega van my (wat verlede jaar albei sy ouers in ‘n motorongeluk afgestaan het) som dit as volg op in ‘n sms: Ek neem dit in met skok. En ek het nog nie totsiens gesê nie. Ons weet egter dat hy deur die Jordaan is en op ‘n Plek wat ver bo ons begrip van heiligheid, vrede en geluk. Hy is by sy Redder.

Abrie en Susan Joubert

20 thoughts on “Ek is soms wel jaloers Johan

  1. Ai toggie Abrie, hoe neem dit my terug na my vriendin se stryd met breinkanker, en haar agteruitgang. Sy het sewe jaar so geleef, en dit was baie erg om dit te beleef. Daar is groot berusting as ‘n mens weet hulle is by Jesus.

    Liked by 1 person

    1. Ja ek het met ‘n ander kollega gepraat wat ‘n vriend gehad het – ‘n dominee – en hulle het het geglo dat hy gesond sal raak. Hy het in remissie gegaan maar is 2 jaar later wel oorlede. Die kollega het vir my gese dat daar ‘n tyd kom wat die Heilige Gees jou oortuig om nie meer vir genesing te bid nie. Met Johan was die kanker so radikaal en vinnig dat daardie tyd eintlik nooit gekom het nie.

      Like

        1. Ek is bevoorreg dat ek ander vriende ook ontmoet het saam met wie ek die “legacy” van stap in die berge kan voortsit. Maar dit is ook so dat in gesprek met hierdie vriende ek dikwels herinner word aan dinge wat ek en Johan gese of gedoen (of nie gedoen het nie). Hierdie naweek met die stap na 2de waterval by Jonkershoek het ek daaraan gedink dat dit die eerste stap is wat ek saam net my ander vriende stap wat ek en Johan nie saam gestap het nie. Maar ‘n ander en veel moeiliker stap – die creme de la creme van Jonkershoekstappe na Victoriapiek – het ek en Johan wel eerste saam gestap en daarna het ek dit vir hierdie virende gaan wys.

          Liked by 1 person

    1. Dit is goed om dit met my blog vriende te deel. Die kommentare laat my maar net besef dat hoewel ons almal individue en uniek is, is ons belewenisse tog nie so uniek nie. Ons kan almal by mekaar leer en input op mekaar se lewens gee.

      Liked by 1 person

  2. Sal ek nou sommer sit en grens.

    My middelste seun se sussie is so twee maande gelede oorlede, op haar 21ste verjaarsdag. Sy het lewerkanker gehad. Dis Desember by haar gediagnoseer, so alles het baie vinnig gegaan (self na sy ‘n lewer oorplanting gehad het). Ek kon nie verstaan hoekom die Here so wonderlike opregte kind moes kom haal nie. Maar noudat ek terugkyk, kan ek sien hoeveel mense weer op hulle knieë gegaan het en weer leer bid het vir ‘n wonderwerk. Sy het dalk nie haar wonderwerk gekry nie, maar sy het soveel mense se lewens geraak – wie weet, dalk het die mense hulle eie wonderwerke intussen gekry.

    Liked by 1 person

    1. Natuurlik kan die Here nog wonderwerke doen en doen hy nog maar soos ek in die huldeblyk genoem het is die belankrikste dat ons deel het aan die grootste wonderwerk ooit, deurdat ons kan aanvaar dat Christus vir ons gesterf en opgestaan het. En ja hy gebruik ook donker tye.

      Hierdie vers het al vir my baie beteken (as ‘n geloofs-ingesteldheid) Romeine 8: 38,39
      Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

      En dit sluit ons emosies in wat ons (my kop) partymaal so laat spin.

      Liked by 1 person

    1. Die middag na die begrafnis het ons ‘n celebration gehou en verskillende vriende en kollegas het fotos gewys en geloofsopbouende staaltjies vertel van die goeie tye saam met Johan.

      Like

  3. Hartroerend. Dankie vir die deel. Ek het ‘n liewe bejaarde Italiaanse vriend wat eendag vir my sy vertolking van die woord toevallig beskryf het. ‘Toe Val die Lig’ – van die Here op jou. Dis heelwaarskynlik toevallig dat jy hierdie vanaand met my deel. Ek loop ‘n pad op die oomblik met my vriendin wat ‘n terminale siekte het – multisisteem atrofie. ‘n Rare en ongeneeslike neurologiese siekte. Wanneer jy die stryd en lyding van ‘n geliefde aanskou raak dit soms bitter moeilik. Ander tye is daar weer sulke geseende en wonderlike oomblikke. Op die oomblik is dit vir my swaar ek probeer my krag opbou vir die pad vorentoe. Die twee jongste artikels skryf ek daaroor. Vroeer kon my vriendin nog self skryf – nou skryf ek as die toeskouer, die ondersteuner, die vriendin en soms die wroeger. Hierdie artikel van jou bemoedig my. http://msainsouthafricawithsonja.blogspot.co.za/

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.