Die nag toe die skote geklap het

KNAL KNAL KNAL…

Ek skrik wakker met opeenvolgende skote wat in die erf langs ons klap. Ons kamervenster kyk uit op op die agterplaas in die rigting van die 6 voet hoë vibacrete grensmuur. Ek besit nie ‘n pistool of ‘n geweer nie en het nog nooit die behoefte gehad om een te besit nie, maar die gedagte kom onwillekeurig by my op dat hulle oor die muur kan spring na ons erf, vuurwapen in die hand. Gekonfronteer met hierdie moontlikheid het ek vir die eerste keer ‘n behoefte aan ‘n wapen om my vrou en kinders te beskerm. Met ons albei nog deur die slaap kyk ek en Susan mekaar grootoog  aan, beide met onuitgespreekte vrae in die gemoed. Ek wil nog iets sê toe nog 2 skote afgaan maar nou voor ons bure se huis in die rigting van die straat.

Aan die een kant is ek verlig, want dit beteken sekerlik hulle hardloop weg en die bedreiging is dus minder.  “Susan ek sal versigtig sal wees maar ek gaan kyk wat aangaan”. Sy moet nog deur die slaap wees of aan skok ly want sy protesteer nie.  Ek stap vinnig in die gang af maar toe ek by die sitkamer kom gaan lê ek plat en begin te leopard crawl (die eerste keer wat ek dit doen sedert die weermag, wat ook die laaste keer was ek ‘n skoot afgetrek het). Die vensters begin omtrent 40cm bo die vloer en ek behoort dus veilig te wees as ‘n koeël by die  venster ingeskiet word terwyl ek soontoe krapkruip. Weet nie wat ek gaan doen as ek by die venster kom nie, maar ek het nooit die venster bereik nie. Na omtrent 3 meter se slangsluip sien ek deur die gleuwe in die gordyne hoe ‘n rooi brandweerwa voor die venster verbyflits. ‘n Frons huiwer op my voorkop, terwyl ek probeer uitpluis wat dit beteken.

Maar ek sou nog leidrade moes ontvang vir die uitpluising om sinvol te wees. Die volgende oomblik hoor ek iets rittel aan die slaapkamerkant van die huis en Susan roep hard “Kom kyk hier”!  Ek los die leopard crawl (maar nie die frons nie) spring op en hardloop kamer toe. Sy is nie daar nie maar die studeerkamer wat uit ons kamer vloei se deur is oop. ‘n Vuur skiet op by die bure agter ons se huis. Ons sien net die punt daarvan aangesien dit aan die ander kant van die huis is (steek dus bo die dak uit – groot vuur). Fronsend verward begin dinge in plek te val en my voorkop ontplooi. Die knalgeluide was nie skote nie maar ontploffings a.g.v. die brand. Klank spring rond in die nag en vandaar dat ek gedink het die “skote” word afgevuur langs en voor ons huis.

Ek gee myself ‘n paar oomblikke om oor die onnodige bangheid te kom en aansienlik meer oomblikke om oor die blondheid te kom, gryp o.a. ‘n baadjie in die kas (deesdae sou die o.a. my kamera insluit maar hierdie was 13 jaar terug) en draf om na die huis wat brand. Soos ek verwag het is daar ten spyte van die middel van die nag realiteit, ‘n klomp mense wat hierdie surrealiteit dophou. Met my aankoms het die brandweer reeds die grootste gedeelte van die vuur geblus (aggenee ek wil brandweerman wees). Maar voor dit was van die bure inderdaad brandweermanne. Hulle het die vuur probeer blus met tuinslange vanaf die erf langsaan en oorkant die pad. Alhoewel die inwoners binne die huis was, het hulle nie reageer op mense se kloppe en roepe nie.

Die vuur het  in ‘n voertuig ontstaan wat voor teen die huis parkeer was.  Die “skote” was onderdele van die enjin wat ontplof het. Die slaapkamer voor die voertuig het ook aan die brand geraak en alhoewel die skade daaraan groot was het die brandweer net betyds opgedaag om te voorkom dat die vuur versprei. Daar was baie vrae na die tyd met rumours dat die eienaars self die vuur gestig het vir versekeringsgeld. Hierdie huishouding was eintlik ‘n tragiese geval. Die eienaar van die huis, die pa is oorlede en die huis moes verkoop word vir boedelredes. Die seun wat in sy dertigs was is as skolier geskors uit die hoërskool. Sy ma het gesterf in sy kleuterjare. Sy pa het weens ‘n skuldgevoel verklaar dat sy seun nooit hoef te werk nie, hy sou vir hom sorg. En die seun het inderdaad nooit gewerk nie. Daar was baie gereelde rowwe partytjies gehou  (soveel so dat ons nie ons huis sou gekoop het as ons van die “aktiwiteite” geweet het nie). ‘n Jaar nadat ons ingetrek het is die pa oorlede. Die huis is verkoop vêr onder die gemiddelde waarde in die omgewing en die nuwe eienaar het die huis heeltemal oorgedoen.

Was hierdie ‘n geval van die een se dood is die ander (my gesin)  se vredevolle bestaan? Ek het myself afgevra of ek moet bid:

  1. dat hulle wegtrek (my klein maar groter wordende kinders het die blootstelling aan die luide banale taalgebruik en reeks dames nie nodig gehad nie) of
  2. moet ek bid dat hulle Christus se liefde vind en deur Sy liefde verander word.

Nommer 2 is duidellik die meer geestelike en “korrekte” opsie. Maar as nr. 2 se doelwit bloot is sodat my gesin vredevol kan leef, wel dan is dit nie die “korrekte” opsie nie want dan is die behoefte eintlik maar selfsugtig. Soos wanneer ‘n mens die persoon voor jou ‘n kans gee om uit die parkeerplek te trek sodat jy daar kan intrek.  Hierdie dinge is nie altyd so swart en wit nie en dit weet die Here ook. Die realiteit is ek was dankbaar toe die surrealiteit verander het, al was die surrealitiet gemeet aan my leefstyl en behoeftes.  Vanuit iemand ander se realiteit, is my lewe dalk ‘n surrealiteit.

 Jesus het dit gehoor en Hy sê vir hulle: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Markus 2:17

Advertisements

14 thoughts on “Die nag toe die skote geklap het

  1. Sulke bure frustreer ‘n mens so erg dat jy later, wetende dat jy verkeerd optree, meer sondig deur hulle te verwens en soms ongeskik met hulle te wees. Ons het twaalf jaar terug een gehad wat sy motorfietse elke naweek voordag reeds op die inrypad parkeer het en dan die enjins laat brul het. Hy het nooit met een gery nie, net gestaan en “rev”, dwarsdeur ons etenstye, tv programme, vleisbraai-geleenthede, middagslapies en kuier saam met vriende. Gelukkig het hy getrou met ‘n vrou wat hom goed vasgevat het. Soms, dink ek, mag ‘n mens ter wille van jou selfbehoud maar ‘n bietjie selfsugtig wees in wense en optrede.

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s