Insidente uit my Laerskooldae 😇 

Dit is pouse en ek hardloop teen die trappe op vanaf die grondvloer na die eerste vloer van Laerskool Maria van Riebeeck. Soos wat dit my gewoonte is doen ek dit amper so vinnig as wat my standerd 3 bene my kan dra, al starende na die grond sodat ek nie mistrap nie. Nog voordat ek om die hoek van die muur kan sien begin ek al te draai en dan tref ‘n lugsak my in die gesig. Wel ‘n lugsak het my nog nooit getref nie maar daar word vertel dat dit nogal seer is –  nie hierdie lugsak nie. Dit is amper asof dit my absorbeer en my dan sagkens laat terug bons.

‘n Geskokte en verleë juffrou Hoogenboesem* staar na ‘n verleë en geskokte Abrie Joubert. Hierdie effens gesette juffrou was uh uhm wel… vooruitstrewend.  Toe ons oë  ontmoet kyk ons albei onmiddelik weg, te stomgeslaan en skaam om iets te sê. Dit is asof in daardie oomblik ‘n ongesproke kontrak gesluit is dat niemand iets hieroor sou sê nie.  Maar dit het nog steeds gebeur – wat nou? Gelukkig het my bene kop gehou en toe ek weer sien hardloop hulle terug grondvloer toe. Ek het darem nooit klas by haar gehad nie want dit sou ietwat awkward gewees het.

Natuurlik gaan dink mens diep oor so ‘n ervaring. Dalk was dit die begin van my semi-filosofiese ingesteldheid. Ek kan met vrymoedigheid sê dat ek nie so vooruitstrewend in my denke of agterbaks is in my optrede om so ‘n lugsak ervaring te beplan nie. Anders as ek, het juffrou heeltyd die gawe van sig gehad en sou sy kon sien dit was ‘n ongeluk, terwyl ek op ‘n stadium net lugsakke gesien en beleef het. Dit is natuurlik moontlik dat sy nie so wesenlik vooruitstrewend was nie, want daar is mos besondere wysheid vasgevang in die lied First of May van die Bee Gees: “When I was small, and Christmas trees were tall” maar ek wil tog beweer dat hierdie kersboomversierings ietwat groter was as ander kersbome se versierings…

*Haar van is verander ter beskerming van haar goeie naam en my beursie. En nee ek gaan nie sê watter een van die vele juffrou bloggers dit was wat hier lees nie🙈

In graad 1 en dalk was ek nog ‘n engel – dit is mos ‘n bekende gesegde dat ‘n baba se vlerkies krimp soos wat sy beentjies groei.

Op ‘n ander keer (ek was in standard 2) moes ek ‘n register na al die onderwysers neem wat hulle moes teken. As standerd 2 was ek bang vir die senior onderwysers wat vir o.a. die groot standerd 5’s klasgegee het.  Die skool was so ontwerp dat mens kan sien wanneer iemand verby die klasvensters loop. My metodiek was om die onderwyser se oog te vang met ‘n gesigsuitdrukking wat sê ek moet met haar praat. Na ek die klasdeur oopgemaak het, stap ek met die register omhoog na die onderwyser en noem dat juffrou so en so vra sy dit moet teken.

Op daardie stadium het ek dit al hoeveel keer gedoen by ander klasse en was al gekonfyt in hierdie mini-mondeling. By die volgende klas vang ek die juffrou se oog en draai die deurknop. Met my voet oor die drempel beveel sy streng dat ek buite voor die deur moet gaan staan en die deur toemaak? Met my voor die toe deur maak een van die standerd 5’s die deur van binne oop met die boodskap dat die juffrou sê ek moet klop en hy maak weer die deur toe. Na my kloppery is ek darem binne genooi. Ek stap nader aan die juffrou en vra of sy sal teken. En toe teken sy ‘n stokhuisie met ‘n boompie langsaan. My vraende blik is beantwoord met: in Afrikaans sê ons onderteken. Na my les in Afrikaanse goeie maniere het die oorblywende onderwysers onderteken nadat ek geklop het!

In graad 1 (ja ek was in Transvaal wat reeds toe grade gehad het), sit ek by die juffrou se tafel wat voor in die klas staan. ‘n Vriendin van my ma sien dit en bespreek dit met haar. My ma vra vir my hoekom ek by die juffrou se tafel sit en ek sê vir haar juffrou het gese ek moet daar sit. Ek moes seker so spontaan en onskuldig geantwoord het dat sy my nie verder uitgevra het nie. Maar sy besluit toe om die juffrou te gaan sien (natuurlik vresend wat haar seun verkeerd doen). Die juffrou verduidellik aan haar dat sy die kinders wat sukkel voor in die klas laat sit en die sterker kinders agter in die klas. Anders kyk die kinders wat sukkel na die “sterker” kinders se werk, wat op daardie stadium dikwels bestaan het om byboorbeeld ‘n vorm soos ‘n sirkel op die ooreenstemmende plek op ‘n bladsy te plaas.

“Nee mevrou hy sukkel nie maar toe ek hom wou agtertoe skuif het hy net botweg geweier en gesê sy ma het gesê hy moet altyd voor in die klas sit”

Die volgende dag het ek agtertoe geskuif en die juffrou het my op ‘n dubbelbank langs ‘n mooi meisie laat sit – hierdie nabyheid aan en bewuswording van die skonere geslag was die begin van my ondergang 😊 Maar meer daaroor op ‘n volgende keer.

Die foto het ek die eerste keer gebruik saam met die  skrywe Wie is ek. Dit wat ek daar geskryf het was deel  van my belewenis en ervaring van waaroor  die lewe eintlik gaan. Lees dit gerus. Wie is ek

24 thoughts on “Insidente uit my Laerskooldae 😇 

  1. Hierdie is ń spesiale skrywe van jou, Abrie. Jy het dit so mooi gedoen, met soveel insig in jou kleinseuntjie dink wêreld. Lugsakke…dit is die beste woord ooit vir ons groter vroulike anatomie. So presies die woord in seuntjie koppe? Ek dink my Nathan kleinseun sal dié woord kan waardeer.

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.