Tenkrol in die Teerpad Wêreldrekord

Nee, dit was nie ‘n poging om die wêreldteerpadtenkrolrekord te verbeter nie. Maar nou dat ek daaraan dink daar is na alle waarskynlikheid nie baie mense wat al watertenke in ‘n teerpad gerol het nie. Miskien moes ek eers vasgestel het of daar so rekord is en dit dan 5m verder gerol het ten einde my naam in die Guinness Book of Records te verewig.  Die laerskool weergawe die uwe sou baie trots gewees het.

Ek het hierdie watertenk Saterdag gekoop en ‘n sleepwa gehuur sodat ek dit kan installeer. Met die aflaai rol ek die tenk tot in die middel van die voorste grasperk en gaan sluit die dubbelhekke oop wat na die agterplaas lei, waar die tenk gaan staan. Met die omdraai sien ek hoe die tenk tot in die pad rol met ‘n motorbestuurder wat angstig toet (die ligte wind in samewerking met effense helling van erf). Ek het my hande in die lug gegooi soos iemand wat oorgee maar gelykertyd breed geglimlag totdat die dame saam begin glimlag het. Gelukkig kon sy betyds stop, geen skade aan voertuig of tenk. Ook maar goed dit was ‘n dame as dit ‘n man was het hy dalk die tenk oor my probeer rol (maar hy sou my eers moes vang terwyl ek tenk en al die Guinness in die pad af).

Die tenk was geïnstalleer vir die eerste reën van die seisoen Saterdagaand 🙂 Dit het meer werk geverg as gewoonlik want die geut vloei afwaarts weg vanwaar die tenk staan by die swembad. Ek dam die water op laer af in die geut met ‘n putty walletjie wat ek tot so 2cm onder die bokant van die geut gevorm het sodat die water kan terugstoot (dit het ek al in die verlede gedoen). Ek moes ook ‘n reeks gate deur die geut boor vir ‘n pypkoppeling. Ek het nie verwag dat dit Saterdagaand sou reën nie, maar dit was bepaald ‘n positiewe belewenis om in die eerste plek die reën te beleef en ook te weet dit vloei in die tenk in.

Met die garage deur oop het ek lank gestaar en opgewonde geword oor die grond en plante wat heerlik nat word terwyl die wind druppeltjies op my gewaai het. Ek vermoed die Braziliaanse Peperboom en Koninginspalm voor ons huis het dit selfs meer geniet.

En nou word die moeder van alle storms in die Kaap voorspel met die ongekende presedent skeppende sluiting van die skole en dit boonop in die eksamenseisoen. My graad 11 dogter sou more Engels geskryf het en skryf dit nou Saterdag 24 Junie. Dit is wel so dat die wind omtrent ‘n halfuur terug begin waai het baie sterker as met Saterdag se reën en dat dit ook nou begin reën het, maar op die stadium nog liggies.

Dinsdag het onderstaande strokiesprent in dieCape Times verskyn. Dit wil voorkom of die diere baie reën verwas en dat Brak (dit is sy naam) profeties ‘n nuwe Noag is…

Ek kan nou nie die huis in ‘n boot omskep nie, maar het darem voorbereidings getref deur sandsakke om die huis te pak ten einde die groot vloed uit te hou(let asb op byskrif by foto hieronder).  By die werk het ek onderstaande foto vir my kollegas gestuur.   “My vrou het versoek dat ek haar by die huis moet kom haal en sy het my weer by die werk afgelaai aangesien sy die X-trail nodig het om sandsakke op te laai”  Ek hulle ingelig dat alhoewel sy “a sterling job” gedoen het sy ongelukkig albei voertuie toegebou het wat beteken dat ek vanmiddag moes huistoe stap wat in die haak is maar hulle kan darem nie verwag dat ek more in die storm moet werk toe stap nie – “sien julle Maandag”.

Die reaksie was uiteenlopend van “nice try Abrie” (my direkte bestuurder) tot dit lyk of ek voorberei vir ‘n oorlog. Daarop het ek reageer: dit ook – ek het 2 dogters…

Net vir die rekord, hierdie spesifeke foto en gesprek daaroor is wat ek noem intellektuele beuselagtighede of te wel nonsens praat (heeltemal benede my) en wat ook ‘n banale 3 letter praat omskrywing het maar gelukkig is ons nie banaal nie!  Ek het nie photoshop nie, gedoen met die Paint program.

En terwyl ons op die onderwerp van storms en dinge is,  onderstaande foto was gisteroggend in die Burger nadat dit al ‘n paar dae of facebook was en anders as my foto hierbo is dit nie gedokter nie. Theunis Wessels staan nou bekend as die Chuck Norris van grassny. Maar volgens ‘n baie goeie onbetroubare bron het die grassny gevolg na onderstaande gesprek.

  • Gaan sny die gras jy dink nou al weke verskonings uit, kyk hoe groei die wit onkruidblommetjies al op die gras.
  • Maar vrou die torna…
  • Hou op met jou verskonings! Gaan sny die gras!!

Die wind begin het nou hard begin loei en dit reën baie harder. Die 2 katte wat gewoonlik in die garage slaap en die hond wat gewoonlik buite in haar hok slaap, slaap vanaand saam met Elrike my graad 8 dogter in die sitkamer.

Ek vertrou dat daar die minimum skade sal wees en dat dit ook in die opvangsgebiede sal stortreën sodat die water na die damme kan vloei. By die werk het die Community Care span reeds begin dink aan die moontlike gevolge – ja daar gaan skade wees, maar die groter dankbaarheid is die reën wat op die oomblik buite val.

31 thoughts on “Tenkrol in die Teerpad Wêreldrekord

  1. Sjoe – jul is omtrent voorbereid. Is die sakke net voor jul ingang gepak? skielik lyk ons karige poging om sand in checkerssakke voor die deure te pak maar afgewater.

    Liked by 1 person

  2. Ek is saam julle bly oor die reën Abrie, ek hoop ook dit kom waar dit moet kom.

    Jy moet tog bietjie foto’s kom wys as julle storm oor is hoor?

    Like jou foto 😆

    Wonder of my baas sal val daarvoor!

    Liked by 1 person

  3. Toe jy nou so beduie oor die voorbereidings wou ek al vir jou sê jy oordryf darem te lekker. Toe sien ek die foto en toe lag ek sommer lekker. Dis rerig nie kinderspeletjies as die water so aankom en mens kan dit nie keer nie. Hoe het die storm toe afgeloop? Was daar darem reën op droër(nou kan ek nie droog spel nie!) plekke gewes? Ek hou duime vas vir n breek in droogte vir julle.

    Liked by 1 person

    1. I reax your poem unfortunately you got more than wind will still comment. My tank became full and I emptied in swimming pool. Raining again and I hear on radio N2 is closed again, now between Sedgefield and Buffelsbaai

      Liked by 1 person

  4. Ai, ek weet nie eens van die storm wat julle verwag nie! Gaan dadelik my Kaap vriendin moet bel om te hoor. Lekker gelag vir jou watertenk storie. En die strokiesprent! Mag julle reën op die regte plekke val, Abrie. En ek hoop die skade is gering.

    Liked by 1 person

  5. Jy sal baie waarde kry uit jou tenk. Ons het in die Vaal Driehoek jarelank groente gekweek met 2½ k liter tenk in die agterplaas. Ons het nou weer een in die agterplaas, maar dit is geïnstalleer om water af te lei van die geute na die stormwaterslote in die straat! Ja, ek was ook verbaas daaroor, hoewel droogte blykbaar nie hier rond ‘n groot probleem raak nie. (?) Maar ons het ‘n waterpyp bo ingegooi en lei elke dag vars water uit vir ons kruietuin.

    Liked by 1 person

    1. Dankie dit het reeds volgeraak en het in swembad laat uitloop in swembad. Die tenk is juis naby my dogter se groentetuin. Jou seun het jou seker gesê dat in die Noordelik voorstede die storm glad nie so erg was nie

      Liked by 1 person

  6. Ek hou van daardie sandsakke vir die oorlog wanneer die kêrels begin opdaag….. kan dit sien, en dit laat my glimlag. Jy het die vermoë om my danksy rollende tenke, storms ens. te laat lag, en ek sê dankie daarvoor.

    Liked by 1 person

    1. Goed om weer van jou the hoor Kameel. Helaas het die kerels al opgedaag my oudtse dogter gaan verlede week 6 maande uit. Maar dit is ‘n oulike klong en het hom opdraande gegee aanvanklik (miskien blog ek nog daaroor)

      Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.