NOODLANDING: Bloemfontein

Dit is nag, ook idiomaties. In die konteks van ‘n noodlanding is die naderende aanloopbaan intimiderend en vreesaanjaend maar ook adrenalienwekkend. Binne ‘n paar 100m gaan ons land en die flitsende ligte van die groot hoeveelheid ambulanse, brandweerwaens, polisie en weermagvoertuie weerskante van die aanloopbaan, raak al hoe duideliker. Ek vermoed dit is die adrenalien wat die toneel vir my as 19 jarige geklee in my weermagklere, meer opwindend as angswekkend maak. Nogtans is ek dankbaar dat my ma nie op hierdie vlug is nie.  Dit sou nie vir haar maklik wees om by die geel noodglybane af te gly nie.   Die 100 polisie rekrute  aanboord, het hierdie vlug ‘n teiken gemaak…

*********************

In die Desembervakansie na standerd 6 het ek vir die eerste keer vliegtuig gevlieg (behalwe vir die honderde kere wat ek in my gedagtes gevlieg het in afwagting en voorbereiding). Dit was vanaf die destydse Jan Smuts lughawe in Kemptonpark tot by die PW Botha lughawe in George. Natuurlik was dit opwindend, maar ook die einde van ‘n era, want die vorige Desembervakansie was die laaste keer wat ek in ‘n passasiertrein gery het – Johannesburg na Hartenbos.  Daaroor meer op ‘n volgende keer.  My pa het destyds by die Suid-Afrikaanse Spoorwee (en hawens) gewerk.

Hy het ‘n Swartpas gehad waarmee  ons as sy gesin gratis kon treinry. Met bevordering is dit opgradeer na ‘n Gryspas waarmee ons binnelands gratis kon vlieg en een maal ‘n jaar gratis oorsee vlieg. Dit was in die tyd toe die Rand nog sterker as die dollar was en nie veel swakker as die pond nie. Helaas wou my pa nooit oorsee gaan nie. Ek onthou nog hoe hy gesê het: “Wat wil ek in Europa gaan maak, ek kan mos op TV sien hoe dit daar lyk”. Sug, daar had min oorgebly van Pa Joubert se Franse Hugenote en Voortrekkerbloed (maar ek het dit darem oorgeërf van die voorgeslagte). Ek was egter nog nie oorsee nie, maar ten minste al op ‘n hele paar plekke waar oorsese toeriste graag sou wou wees.

Dit was in die dae toe daar nog gerook is in vliegtuie en aangesien ek nooit aan die rokerskant gesit het nie het ek nie hierdie vuurhoutjies in Oranje, Blanje Blou ontvang nie. Vandag is dit totaal onsinnig om te dink dat mens op vliegtuie kon rook.

En natuurlik was die vliegtuig ook geklee in die kleure van die vuurhoutjieboksie.

Ek was nogal verbaas toe Mango besluit het om die oranje, blanje blou kleurskema te laat herleef (op dae wat dit nie bewolk is nie in elk geval). Ek let egter op dat daar nie meer ‘n Springbok op die stertvin is nie, maar wel die gastronomiese oorskiet van die springbok… Hierdie oorskiet van die bok word natuurlik ook in spoegkompetisies gebruik.

Tydens ons eerste vlug het het my ma  – ‘n intelligente vrou – ‘n paar blonde dinge kwytgeraak; ek vermoed dit is die senuwees wat geknaag het. Met die opstyg sê sy verskrik: “Wat klim die man dan nou met ons trappe!” So ‘n halfuur later vlieg ons oor die Vrystaat. Dit is gedeeltelik bewolk en waar die skadus op die grond val is dit baie donker in kontras met waar die son skyn. “Lyk my die hele Vrystaat het afgebrand” was haar interpretasie van die donker gedeeltes. Ons het dominoes gespeel op die klein tafeltjies (asof ons gesoute en verveelde vlieērs is). Sy sou later vir mense mense vertel dat ek en sy Monopoly in die vliegtuig speel (miskien was die tafeltjies nie so klein nie!).

Ek et hierdie foto in Desember by George lughawe geneem. In die agtergrond is ‘n vliegtuig op pad na die aanloopbaan om op te styg. Die vliegtuig in die voorgrond gaan nie weer daardie voorreg smaak nie. En regs bo is daar reeds ‘n “vliegtuig” in die lug. Die beheertoring links, is betyds vir die sokker wereldbeker verander om soos ‘n sokkerbal te lyk. Ander fotos vanaf internet

****************************

Daar sit ‘n baie mooi vrou langs my, ‘n paar jaar ouer as ek. Tot my verbasing slaag ek nogal om met haar te gesels. Links van my sit die polisie rekrute  oppad om opgelei te word by die polisiekollege te Pretoria. Na ‘n weermagpas is ek ook oppad terug na Pretoria (vanaf PW Botha, George). Vandaar gaan ek weer as gas van die Minister van Verdediging vanaf Waterkloof, per vliegtuig na Ondwanga en dan padlangs na Ruacana in die toe nog Suid-Wes-Afrika, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die aandete kosbakkies is pas uitgedeel, toe die kaptein se stem gehoor word: “ons het ‘n sekuriteitswaarskuwing ontvang. Aangesien dit nie die beleid van die Suid-Afrikaanse Lugdiens is om hierdie waarskuwings ligtelik op te neem nie gaan ons op die naaste lughawe land…..”. Die kajuitpersoneel (nou duidellik gestres) versamel onmiddelik die kos veel vinniger as wat hulle dit uitgedeel het. Vir my as groeiende seun ek bedoel man is dit bepaald katastrofies maar skielik stel die dame langs my nie meer belang om met my te gesels nie – nóg ‘n katastrofe…

Voorts sorg hulle dat alle handbagasie in die bagasieluike bo ons koppe gesit word. Daarna word ons ingelig dat ons so gou moontlik van die vliegtuig moet afbeweeg wanneer ons land. Vir hierdie rede gaan die geel noodglybane gebruik word. Indien die vrouens hoëhakskoene aan het moet hulle dit uittrek aangesien dit die plastiek kan beskadig. Die  vliegtuig gaan op die verste moontlike plek vanaf die lughawe land. Sowat 200m vanaf die vliegtuig sal busse geparkeer wees. Wanneer ons by die glybane af is moet ons so vinnig as wat die vir ons gerieflik is by die busse kom wat ons na die lughawe gebou sal neem. As ek nou daaraan terugdink was dit nogal ‘n bekvol instruksies.  

Ek het die tannies jammer gekry want hulle het die glyspoed probeer verminder deur met hulle arms op die  oppervlagte te druk wat wrywing sere “grass burns” veroorsaak het (die plastiek is growwer as wat dit lyk). Toe dit my beurt is het ek daar afgegly soos aangesê (hierbo geïllustreer). Op die einde het ek self afgespring maar daar beweeg toe iemand voor my in om my te help. Een standaard weermagstewel het hom op sy maermerrie getref, want ek was reeds in die lug. Hy wou nog seerkry toe kom die volgende persoon al.

In die lughawe gebou was daar verskeie vrouens sonder skoene (een of albei het in die proses weggeraak). Ons het sowat 5 ure vertoef voordat ons teruggeneem is na die vliegtuig. Die polisie- en honde het daar rondgedraal en die noodvoertuie was steeds in volle sterkte. Ons moes elkeen ons bagasie gaan uitken (ook die bagasie in die luike onder die vliegtuig was uitgepak). Op die ou end het daar wel een tas sonder ‘n eienaar oorgebly. Die veiligheidswaarskuwing was ‘n bomdreigement. Ek weet nie of daar iets in daardie tas was nie en ons het niks die volgende dag op die nuus gehoor of in die koerante gesien nie. Ek dink hierdie en die vliegtuiginsident waarin ek indirek betrokke was, is genoeg vir ‘n leeftyd. Ek het geen behoefte om vas te stel of dit steeds so “prettig” sou wees nie.

Om te lees oor die ander insident wat definitief nie prettig was nie klik hier: Per aspera ad astra

18 thoughts on “NOODLANDING: Bloemfontein

    1. Executive summary just for you Anne. It is about my first flight when I was 14 and my mother and my experiences like playing dominoes while flying and she absentmindedly telling people we played monopoly. But it is actually about when I was 19 and had a bomb scare and landed at Bloemfontein instead of Johannesburg and the experience of going down an emergency flute.

      Liked by 1 person

      1. Aw, thanks so much Abrie. I wish I had the talent to learn languages easily. I’ve been here forever and I’m still only speaking English. Terrible.
        I would have been terrified. I’ve been lucky. And we have no choice but to be brave when we have to fly. I can understand those with fear of flying.

        Liked by 1 person

          1. You flatter me so. Thank you so much, kind sir. 🙂 But crazy, remember. Road rage… stuff… Haha!
            Afrikaans is not an easy language to learn, not at all, so I’m learning Spanish. Not easy either. I should give up. 🙂

            Like

  1. Nee, dit moet liewer nie met my gebeur nie. Ek is ‘n slegte passasier en ek vat gewoonlik nie skoon klere saam in my handbagasie nie. Onthou jy destyds toe SAL weggedoen het met die etes op binnelandse vlugte om koste te bespaar, het hulle moes vir Schoeman (destyds Minister van Vervoer) daaroor aangevat in die parlement. Dis toe dat hy afhaak met die gevleuelde woorde: “Wil jy vreet of wil jy vlieg?”

    Liked by 1 person

  2. Ek sou wat wou gee om in my jongdae by daardie glybaan af te gegly het….. was verslaaf aan alles wat gly, of rol, of tol. Maar nou gee jou storie my ‘n hol kol op die maag. Sien dis die dinge in die lewe wat ons stories gee om te vertel.

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.