Deur watter lens moet ek kyk?

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to WPC click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans

Hierdie is ‘n skryfuitdaging wat vra wat jy sal saamvat as jy alleen op ‘n eiland sou wees. Jy kan aanneem dat daar beskutting en voedsel sal wees.  Vir ander bloggers se weergawes klik op die blou paddatjie heel onder.


Die onstuimige see het my na die boonste dek gedwing. Nee, ek het nie benoud of vasgevang in die kajuit gevoel nie. My passie om iets besonders af te neem trek my soos ‘n magneet na bo.  Ek gryp my kamera-sak maar dit is asof iets vir my sê om die reddingsbaadjie ook aan te trek. Met die onreëlmatige beweging van die boot moes ek noodgedwonge aan die metaalrelings van die trappe vasklou. Voorlopig omklem ek hierdie gladde metaal, eerder as die sensuele rondings van my kamera. Dan volg ‘n afkondiging oor die interkom dat alle passasiers in hul kajuite moet bly en nie na die dek toe moet gaan nie. Die skip is glo bestand teen die storm maar die water bars oor die dekke en dit is glo lewensgevaarlik buite. SNERT! ek laat my nie so maklik afskrik nie – ek gaan net vinnig ‘n paar fotos neem en dan terugkeer.

Strompelend na bo en net voor ek die deur oopmaak doem die woorde by my op: “Julle het baie meer breinselle as hormone. Dit maak dus sin dat ‘n situasie met julle breinselle evalueer word en nie met julle hormone nie“. Die passie wat ek het om fotos te neem is ietwat anders as die passie waarna ek toe verwys het in gesprek met hoërskoolkinders, maar analogies dink ek dalk met my hormone? Ek skud die gedagte van my af en maak die deur oop. Die water spat glad nie so erg oor die dek nie en ek loop voel-voel na buite. Op daardie oomblik ruk die boot omtrent 30 grade na ←bakboord en onmiddelik weer 70 grade na stuurboord→. My kop stamp teen iets en ek word soos ‘n vrot vel oor die reling geslinger waar ek in die onstuimige water onderdompel word. Die reddingsbaadjie bring my terug na die oppervlakte en die laaste ding wat ek sien voordat ek my bewussyn verloor is die boot wat voortvaar sonder my.

♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦

Ek word wakker met ‘n kloppende hoofpyn en begryp aanvanklik glad nie wat aangaan nie. Ek is nat; dit is donker; ek is stormhonger en ‘n reddingsbaadjie omklem my.  Dan onthou ek die boot wat wegvaar en my absolute sotheid. Ek het geen idee hoe lank ek bewusteloos was nie – ure of dae? Voordat ek in ‘n depressie kan verval stamp my voet teen iets – die bodem van die see – ek moet naby land wees!

In die dae wat volg het ek myself ingerig t.o.v kos en verblyf, maar ook besef dat ek alleen op ‘n onbewoonde eiland is. Die passasierskip was besig om in die Maleisiese Argipel in Suid-Oos Asië te vaar. Daar is +- 25 000 eilande waarvan minder as die helfte bewoon is in ‘n area van 2 miljoen vierkante meter. Ek kan ander eilande sien maar geen menslike aktiwiteite nie en ‘n hooimied is aansienlik kleiner. Wanneer sou hulle besef het ek is nie meer op die boot nie, as hulle dit ooit besef het.

My emosies het aanvanklik gewissel tussen dankbaarheid en selfverwyt. Die hoop om gevind te word en die bi-polêre “wete” dat ek nooit gevind gaan word nie en dat dit boonop my eie skuld is. Die kamera-sak, wat met die uitspoel steeds oor my skouer en borskas geklem was,  het ek afgehaal en eenkant neergesit. Vir ‘n paar dae het ek die oorsaak van my lotgeval ignoreer. Mettertyd het ek die selfverwyt op ‘n emosioneel onvolwasse manier na die kamera verplaas. Dit was die kamera se skuld! As dit nie vir die kamera was wat my verlei het nie, was ek nie nie in hierdie mooi niks nie. En die kamera het geen nut nie. Hier is in elk geval nie iets om af te neem nie. Met die kopskuif weg van my aandeel, het ek nie meer selfverwyt beleef nie, maar ook nie dankbaarheid nie. ‘n Nuwe emosionele wisseling tussen swartgalligheid en neutraliteit. Geen vreugde. Na sowat ‘n week het ek in ‘n swartgallige bui besluit om die kamera uit die sak te haal. Ek gaan dit aansit en sodra die beeld op die LED skerm verskyn, dit met passie verwoes.

Met minagting haal ek die kamera uit en druk die aansit knoppie baie harder as wat nodig is. Maar die begraafplaas van die kamera – die rots waarop ek dit sou stukkend gooi – verskyn nie op die skerm nie. Die seewater het sy werk gedoen en die elektronika verwoes. Dit maak my onbeskryflik emosioneel en ek begin te ruk van die snikke. Die stres, negatiwiteit en bitterheid vloei uit my liggaam. My kamera mag dood wees maar ek lewe. Net daar raak ek bewus van hierdie pragtige plek en besluit dat ek gaan fotos neem. Die lens en fokus werk steeds al gaan die fotos nie op die hardeskyf registreer nie. Ek neem in elk geval baie in my denke fotos en ek kyk in raampies om te sien of die komposisie reg gaan wees. Hierdie fotos kan ek nie op ‘n blog deel nie, maar dit help my lewe.

Die lens van my oog was besig om al hoe donkerder te raak en my gemoed al hoe swartgalliger. My kamera se lens laat my weer nuut sien. God praat weer met my. Die eerste foto wat ek neem is van die rots wat die begraafplaas sou wees. Dit word die rots wat na 3 dae weggerol is van die graf; die Rots wat my herinner om nie my emosies op sand te bou nie. Links van my ritsel riete teen mekaar en dit herinner my aan die snare van die harp en lier waarop Dawid gespeel het om Saul se gemoed te lig. Die lig verkleur na die van ‘n pragtige sonsondergang en ek dink aan ‘n psalm wat die son ‘n bruidegom maak en dat niks sy gloed ontkom nie. Ook my fotos van die maan en sterre later die aand laat my besef dat al die duisternis nie die Lig kan verdryf nie.

Die volgende oggend stap ek na die ander kant van die eiland om fotos van die Sonopkoms te neem. Ek kyk met ‘n nuwe lens – en dit is pragtig. Ek neem sommer baie fotos, ook toe die son soos ‘n bal in die lug begin hang en al lekker skerp skyn. En na ‘n ruk sit ek die kamera neer om in die pragtige turkooisblou see te swem en sommer net te ontspan.  Soos die bad van Bethesda genees ook dit my denke en ek kyk met ander lense – die lens van my hart. Met my ore in die water hoor ek ‘n dreuning wat nie weggaan wanneer ek my kop skud nie. ‘n Motorboot is nog vêr maar kom al hoe nader… !!! Ek spring op en waai soos ‘n besetene maar hulle kom reguit na my toe.

♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦

Alle skepe is gevra om uit te kyk vir iemand wat van ‘n passasierskip afgeval het. Die motorboot is laat sak uit ‘n vragskip wat baie ver van die eiland af gevaar het.  Hulle het toevallig gesien hoe iemand vanaf die eiland sein met ‘n spieel en kon met hul GPS bepaal dat dit ‘n geregistreerde onbewoonde eiland is. Ek kyk vraend na hulle. Dan besef ek dit was die kameralens wat die sonstrale weerkaats het. Met die son wat in my oë skyn voor my het ek in elk geval nie eers die vragskip gesien nie, wat baie klein op die horison moes wees. Onmiddellik word daardie fotos die mooiste fotos wat ek ooit geneem het – hoe jammer ek kan dit nie hier wys nie.

♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦♦

  • Net vir die rekord hierdie is ‘n fiktiewe verhaal met my as hoofkarakter. Ja daar is nuances van my eie lewe daarin maar ook heelwat fiktiewe eienskappe.
  • Dankie Una jou kommentaar oor my fotos en dat ek met my hart kyk het my laat besef dat ek my kamera moet saamvat. Ek dit is vir my verbasend hoe die storie ontwikkel het.
  • Dankie Kameel sonder jou direkte vraag oor waar my Eilandskrywe die aand voor die afsnypunt, sou die besef nooit in ‘n griffel ontaard het nie.
  • En Hester vir jou moelike en frustrerende onderwerpe – dankie dit rek my brein en help my om fiksie te skryf, wat ek gewoonlik nie doen nie.

Kom plaaskuier saam by Muldersbank (Oudtshoorn) asb ook saam met my. Ek neem die vrymoedigheid om te beweer jy sal glimlag en dit visueel geniet. Werklike gebeure en baie anders as my Eiland blog.  Van my kant af gaan ek nog al die eilandstories lees.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). Laasgenoemde blogpos is opdateer op 2017-09-05.

Advertisements

31 thoughts on “Deur watter lens moet ek kyk?

    1. Hester jy is profeet 🙂 . Lewies beweer ook so iets. Die verskil is hy het die gese nadat dit klaar geskryf was. Jy het dit gese toe nog det ‘n deel van een paragraaf geskryf was 🙂 . Ek besef jou opmerking was oor my tegniek om die betyds gepubliseer te kry 🙂

      Liked by 1 person

      1. Nou waar het my ander kommentaar heen verdwyn? Ek het jou vertel dat jou skommelende boot my seesiek maak. Abrie, kyk asseblief of my kommentaar in jou spambox is, want al meer van my kommentare raak nou skielik weg. WordPress dink seker ek praat te veel.

        Like

  1. Nou goed Abrie, jy het my hardop laat lag….. die sensuele rondings van die kamera nê? En jou eilandfotos met die beskrywings daarby het my diep geraak. Hier is lewenslesse te leer in hierdie stuk skryfwerk. Dankie!!!

    Like

  2. Fotos met net ń lens en fokus…Dit is dié wat ons bitter graag sal wil sien. Ek het reeds ń lang kommentaar geskryf, en nou het dit verdwyn. Was nie klaar nie! Toemaar. Jy weet ek dink jy skryf baie goed, en met hierdie storie haal jy ń klomp lesse uit die hoed uit. Asook ń klomp waarhede.

    Liked by 1 person

    1. Dankie Una Ja het al met my ook gebeur dat kommentare ten spyte daarvan dat ek nie kulkunstenaar is nie. Frustrerend. Hierdie storie het anders gevloei as die oorspronklike idee wat ek gehad heg nl ‘n dialoog tussen my en die kamera oor hoe om regte foto te neem. Maar ek hou meer van hierdie weergawe

      Liked by 1 person

    1. Dankie Lewies. Dit was self vir my interessant hou die storie ontwikkel het. Toe ek begin het sou dit ‘n 2 gesprek tussen my en kamera wees oor hoe mens fotos neem wat toe glad nie gebeur het nie en die SOS idee hetvook eers by my opgekom diep in die storie in.

      Like

  3. Baid dankie, jou eiland tyd was positief aangewend met al die geestelike elemente daarin. Ek glo dit is juis die rede dat jy heelhuids daarvan kon teruggaan na die plek waar jy weer een van menigte is. 😉😊
    Ek het dit nou voorwaar geniet.

    Liked by 1 person

  4. Dit, my vriend, is nou n besonderse eiland en wat ek saamvat. As mens so daaraan dink gebruik ons elke dag ons eie lense en kameras om ons omgewing af te neem in ons breine. Daardie fotos word weer uitgehaal as mens in diep donker oomblikke is. Dan ook aan die Hand van ons Maker is die lewe die moeite werd om te beleef. Ek besef dit is fiksie maar steeds het dit gewys wat in jou sit! Dankie daarvoor. en die deel ook.

    Liked by 1 person

    1. Baie dankie Ineke. Ja hierdie skrywe sal seker in my top tien wees as en op hierdie stadium ‘n top tien sou moes kies. Dit was vir my besonders hoe dit ontwikkel het. Oorspronklik sou ek en kamera in gesprek gewees het oor hoe om fotos te neem, maar op die ou end was die fotos iets wat mens kan saamneem sonder dat mens dit sien.

      Like

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.