In die lanfer van ons rou?

Moenie versuim om jou brief nog ‘n slag oor te lees nie. Miskien weet die man nie dat jy beter is as die foutjies wat jou ontglip het nie.                             C.J. Langenhoven

Bostaande is bepaald van toepassing op ons skrywers en boggers. Ek is voortdurend besig met nuutskeppinge wanneer ek kommenaar lewer aangesien my unieke tikstyl veel te wense oorlaat of is dit te veel te interpreteer oorlaat, aangesien ek weinig die kommentare oorlees.  Dit wat ek op WordPress publiseer lees ek wel weer oor, maar ongelukkig lees ek baie keer wat daar veronderstel is om te staan en nie wat wel daar staan nie. Hoop nie jy aard na my nie, aangesien die eerste sin van hierdie paragraaf moet lees: ons bloggers en nie boggers nie asook kommentaar nie kommenaar, maar as die skoen pas…!

In die dae toe ek nog baie gelees het, voordat ek sosiale interaksie ontdek het (nie sosiale media nie – sosiale interaksie met mense) het ek sowat driekwart van Langenhoven se versamelde werke deurgelees. Langenhoven se humorsin en van sy filosofië spreek tot my. Sagmoedige Neelsie was natuurlik ‘n kampvegter vir Afrikaans en dit is deur sy bemiddeling dat Afrikaans ‘n amptelike taal in 1925 geword het.

Op universiteit het ‘n gas-lektor die Die Stem van Suid-Afrika met ons as eerstejaars behandel. Ek kan nie die professor se naam onthou nie maar hy was bepaald ‘n vars windjie in vergelyking met ons gereelde lektor se eentonige styl.  Hieronder is ‘n uitreksel uit die derde vers  – die een wat bitter min gesing is, selfs toe die Stem die amptelike volkslied was:

In die songloed van ons somer,
in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou,
By die klink van huw’liksklokkies,
by die kluitklap op die kis –
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
weet jy waar jou kinders is.

Die eerste ses reëls omvat die uiterstes van ons menslike bestaan en is pragtige poësie. Ek onthou hoe die professor daarna verwys het dat die alliterasie van die k’s in die 5de en 6de reëls, ook klanknabootsing is van die aksie wat omskryf word:  kluitklap op die kis. Die manier waarop hy dit uitgespreek het herhinner aan die klik-klanke van Xhosa. Die verwysing na Xhosa het hy nie gebruik nie en ek het ook nie op daardie stadium daaraan gedink nie, maar met my beperkte kennis van Xhosa wat ondertussen bygekom het sien ek hom nog in my geestesoog en dink ek nou daaraan. Maar nee Langenhoven sou sekerlik nie daardie interpretasie ingeskryf het nie.

Hy het amper liries geraak oor die Stem as gedig en skieklik met ‘n dramatiese pouse beklemtoon: maar nie as volkslied nie. Hy het verduidelik dat die Stem verteenwoordigend is van slegs ‘n spesifieke bevolkingsgroep en taal in Suid-Afrika. Dit het die lesing natuurlik vir my bederf aangesien ek op daardie stadium nie met hom saamgestem het nie.  Op skool was ek ‘n hartstogtelike ondersteuner van en vegter vir die idees van die party wat ek en my ouers ondersteun het. Maar ek het reeds toe agter gekom dat dit baie makliker is om jou teenstanders aan te val vir dubbele standaarde en dom dinge wat leiers sê as om jou eie party se ideologie te verduidellik.  Maar ek het ook besef dat die meeste mense wat my party ondersteun het, dit doen omdat hulle nie van Swartes hou nie en dat dit nie oor ‘n politieke ideologie gaan nie.

My politieke denke sou na ‘n paar jaar op universiteit verruim. En as gevolg daarvan het my pa vir my gesê het dat ek gebreinspoel is terwyl dit my belewenis was dat ek gehartspoel is. Na ‘n geestelike belewenis het my denke oor mense verander en kon ek nie myself skaar saam met mense wat in beginsel teen ‘n rassegroep was nie. Aan die einde van 1991 was dit my laaste jaar as vakansiegids by die Kango grotte en Grootboom (kan nie sy naam onthou) was die eerste swart gids wat aangestel is. Sy pa was op daardie stadium die voorsitter van die ANC op Oudtshoorn nadat die ANC in Februarie 1990 ontban is. Grootboom het die wind van voor gekry – al die ander gidse was Blank en wou heeltyd met hom redeneer oor hoe verkeerd die ANC is. Ek het die Blanke gidse op ‘n stadium gestop en vir hulle gesê dit help nie ons vertel oor en oor vir hom ons storie en gee hom nie kans om te praat nie en dat ons hom moet uitlos. Hy is uitgelos en die spil van die gesprekke het weer om belangriker dinge gedraai soos die mooi meisies op die toere…

Ondertussen het ek wel die geleentheid gekry om met Grootboom te praat oor die toekoms en wat hy dink gaan gebeur wanneer daar ‘n verkiesing kom. Ek het vir hom gesê dat die Blankes die volkslied en die vlag gaan verloor en dat die Springbok embleem as ‘n simbool van versoening behou moes word.  Wel ek was verkeerd ‘n gedeelte van die Stem is saamgevoeg met dele van  die gebed Nkosi sikelel’ iAfrika. Ironies is die skrywer van die eerste vers Enoch Sontonga en CJ Langenhoven albei in 1873 gebore.

Dit was in 1990 toe ons as ‘n groep studente vanaf Port Elizabeth na Stellenbosch fiets gery het (darem in skofte) en o.a. by die Taalmonument ‘n draai gemaak het. Daar het ek rondgeloop en fotos met my Kodak Ektralite 400 gemik-en-druk en ge-2keer-dink voor ek druk want dit is film.

Hierdie skrywe het my inspireer om die eerste keer sedert die fietsryery die Taalmomument te besoek en hierdie is een van vele fotos wat ek geneem het. Ek het dit agterna by hierdie skrywe kom invoeg.

Twee skrywers het die voorreg om aangehaal te word by by die monument, naamlik CJ Langenhoven en seker die grootste Afrikaanse skrywer van alle tye NP van Wyk Louw van wie se gedigte ek aanhaal in Sneeu (en ys) in Sutherland toe  na aanleidig daarvan dat ons op sy oupa se plaas gebly het. Indien jy wonder waarom die Taalmonument nou juis daardie “vreemde” vorm het – dit is a.g.v. CJ Langenhoven se “somme”  hieronder omkring in blou, oor die groei van Afrikaans. Die Taalmonument is dus onder andere ‘n wiskundige grafiek wat groei aandui. Met die lees hiervan het die ontwerp van die monument nie net vir my sin gemaak nie maar ook inspireer.

Ek onthou, droom, bid, en klim berg in Afrikaans en alhoewel ek Engels ook gebruik beteken dit nie dit is ‘n alternatief vir Afrikaans nie. By my kinders se hoërskool, wat ‘n enkelmedium Afrikaanse skool is, is daar ‘n Chinese leerling. Hy is nie aangeneem nie, sy ouers is ook Chinese wat emigreer het maar hy is wel in Suid- Afrika gebore. Die huishulp het hom leer Afrikaans praat. Sy naam is Chi Lee en ja sy bynaam is Chilli. Miskien moet ons vir Chilli vra wat hy sal doen as Afrikaans verdwyn. Maar julle en Hester en ek gaan vir Chilli help dat Afrikaans aanhou skerp brand op sy tong en dat dit nie nodig is vir my om klere van lanfer te laat maak nie.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Advertisements

23 thoughts on “In die lanfer van ons rou?

  1. Abrie oor Afrikaans in duidelike Afrikaans! Ek het nou weer die Stem volledig gaan deurlees, dis weer opgepoets op die groot onthourak van my hart. Welgedaan bogger, ekskuus blogger! Groetnis vir jou en Chilli 😉

    Liked by 1 person

  2. Jy leer my altyd iets nuuts. Ek het nogal by tye gewonderoor die Taalmonument se vorm, maar nooit daaroor gaan oplees nie. Ek was van kleintyd af mal oor die stem se woorde en jy is reg, daardie derde vers is besonders. (Mag ek net byvoeg dat Nkosi sikelel’ iAfrika ook die pragtigste woorde bevat.) Ons sal Chillie se tong aan die brand hou!

    Like

  3. Hierdie artikel is baie interessant. Ek het wel Langenhoven en N.P. van Wyk Louw al gelees. Alhoewel ek Engelssprekend is, dink ek dat Afrikaans een van die mooiste tale is 🙂

    Like

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.