Die spook, die duiwel en die Kango-grotte

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to WPC click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans

Na aanleiding van Hester se uitdaging om ‘n Spookstorie te skryf

Dit is ‘n riemtelegram dat spoke afgeneem het soos wat elektriese ligte toegeneem het. Boonop is dit nie so is dat alle kinders engeltjies is, wat se vlerkies krimp soos wat hulle toontjies groei nie.

Inteendeel spoke het toegeneem. Deesdae is daar spookwerknemers. Nou dit is so dat sommige jongelinge by maatskappye (die soort wat as kinders reeds nie engelvlerke gehad het nie) die indruk skep dat hulle spoke is. Die hare, kleredrag en uitdrukkings in die oë moet sekerlik die van ‘n spook wees. Hulle dra selfs nog die klere wat hulle aangehad het, toe hulle oorlede is. Mens weet nie waaraan hulle oorlede is nie, maar foeitog hulle moes omtrent uitmekaar geruk gewees het as mens so na die geskeurde denims kyk.

Teen die tyd het jy seker al die spookweergawes van die dames ontmoet. Darem maar tragies dat spoke nie bene het nie. Wys jou net – selfs mooi bene maak nie ou bene nie .   Alle fotos vanaf internet

Maar anders as wat ek op ‘n stadium gedink het leef hierdie veel bespoke ek bedoel besproke werknemers nog. Spookwerknemers daarenteen leef net op ‘n maatskappy se betaalstaat. Ja hierdie werknemers wat nóg spook nóg werk maar tóg neem ten einde iemand wederregtelik ryk te maak. Maar laat ons tog nie nou nie aan daardie diepe donkertes dink nie.  Dié dieptes kan donker Afrikaans inspireer (sien Storieklong se spookstorie oor betekenis van donker Afrikaans). Spookwerknemers is slegs moontlik met verskeie mense wat lieg. Regte spoke kan nie leuns vertel nie – wel hulle kan, maar mens sien reg deur hulle…

As gids in die Kango-grotte het ek iets beleef wat my hare laat regop staan het en toe het ek nog hare gehad.  Ek was op die 8-uur toer wat die eerste toer van die dag is en wat ook beteken dat ek die enigste gids in die grot was. Dit het gebeur in die kamer net na die Botha-saal. In Welkom in die Kango-grotte het ek mos vertel van die gids wat alles meganies vertaal en ingedagte gesê het: “You are now in the Botha Hall – u is nou is Botha se hol…”. Wel as daardie gedagte jou nie bang maak nie sal geen spook jou bang maak nie!

Nou moet in ag geneem word, wanneer mens op die 8-uur toer gaan is alles nog pikdonker. Ek skakel die ligte aan soos wat ons deur die grot beweeg en ek stap heel voor. Op die eerste toer is die trappe se ligte wel aan soos wat ek afstap na die groot Van zyl-saal maar dit is al wat aan is. Dit is my taak om vinnig agter my flitslig aan te stap en die ligte oorkant die saal te gaan aanskakel. Daardie  ligte is heeltemal uit die sig van die toeriste. Teoreties kan iemand (of een of ander grotgedierte) daar vir my wag.

Met die verskeie donker gate, rotsblokke wat rondlê, vlêrmuise en ongewone formasies, is ‘n grot in elk geval ‘n onheilspellende plek. Ek twyfel of ‘n toeris op sy/haar eie daar sou wou deurgaan. Wel as jy dit deur Botha se uh… saal gemaak het is jy in die Reënboogkamer.

Daar is ‘n o.a. ‘n formasie wat soos die sy-profiel van ‘n man lyk. Wel die neus lyk soos die van ‘n man, vir die res is verbeelding nodig. Maar kom luister na Abrie van so 28 jaar gelede: “Daar regs voor onder u, kan die doopbak gesien word en links bo teen muur ‘n groot familiebybel  en die vlerk van die kind se  beskermengel.”

Die Bybel en die engel se vlerk direk langs dit.

“Maar daar is ook ‘n ongure teenwoordigheid!” En met die woorde skyn ek die flits op die profiel van die “man” en draai weer na die groep terwyl ek onheilspellend maar speels sê: “as u mooi kyk sal u dalk Niek die grotduiwel se  neus kan sien”. Ek sien hoe van die mense se oë rek en ander senuweeagtig giggel. Dit is veronderstel om snaaks te wees maar hier is iets fout. Ek kyk terug na Niek en in die elektriese ligte sien ek ‘n hand herhaaldelik na sy neus wys!!

Ek het kalm en beheers probeer voorkom en vinnig aanbeweeg na die bruidskamer. Ek sou erken dat dit teoreties moontlik is dat een van my mede-gidse besluit om my toer meer dramaties te maak. Inteendeel ons het partymaal ooreengekom om dit op mekaar se toere te doen. Maar hierdie was die eerste toer. Daar was nie nog ‘n gids nie en dit is hoogs  onwaarskynlik dat ‘n gids verby ons kon sluip aangesien hy sy flits sou moes aansit om te sien. Ek het my mede-gidse hieroor uitgevra wat medepligtigheid ontken het en ek kon ongelukkig (maak dit gelukkig) nie deur hulle sien nie.

Spoke al dan nie, ek sou baie graag my blog-vriende op ‘n toer wou neem!


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

22 thoughts on “Die spook, die duiwel en die Kango-grotte

  1. Ek is bly ek was nie op daardie toer nie!!! Daar het tweekeer iets spokerig met my gebeur wat my hare nogsteeds laat rys…. dus dink ek jou spookhand kon net mooi dit gewees het… ‘n spookhand.

    Like

  2. Dog ek sê jou net… ek het jou foto van duiwel se neus en spookhand gegaps. My dogter en haar gesin op die oomblik in Kangogrotte…. toe vertel ek haar dit spook daar, en stuur vir haar jou foto. Sal hom weer terugsit!!! Hoop nie ek het gesondig nie?

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.