‘n Ou fossiel of natuurlike ou jy – ‘n nuwejaarswens

Daar’s ‘n nuwejaarswens wat ek hierdie jaar iewers raak gehoor het, en weens my humorsin (of humor-on-sin) my bybly:

Mag jou probleme so gou verby wees soos jou nuwejaarsvoornemens. 

Ek gun mense nóg probleme nóg onuitgevoerde nuwejaarsvoornemens, maar ek vermoed dat die eerste meer algemeen is, as die suksesvolle uitvoering van die tweede.

Nuwejaarsdag 2018 geneem vanaf Grootbrak

In die Suidkaap het die diepsee skuimkoppe die hopsdrankies se skuimkoppe bepaald oortref. Dit het dit baie onaangenaam gemaak vir diegene wat die see op nuwejaar wou geniet, behalwe as jy ‘n vernuftige vlieër-branderryer (kite surfer) is. Ek het toevallig verby Grootbrak gery en aangesien die olie-boor die naaste aan Grootbrak se kus was, besluit om die ongewone struktuur af te neem. Danksy die kombinasie van olieboor, kite surfer en veral die wind  is daar ‘n fluistering in my hart in geboor. 

Fossielbranstof (fossil fuel) word verbrand en die oorblyfsels deur die wind verwaai. Die wind kan dieselfde energie verskaf wat steenkool verskaf (die Wes-Kaap het die meeste windplase in Suid Afrika maar in die Wes-Kaap word daar vir water geboor). Maar nee hierdie is nie ‘n pleidooi vir natuurlike herwinbare hulpbronne nie (alhoewel dit nodig is). 

Hierdie is ‘n pleidooi dat Abrie en ons as bloggers onsself sal wees: natuurlike ou Abrie; nie voorgee Abrie nie; nie ek wil ander beïndruk Abrie nie. Om die waardes te leef en vrymoedig te skryf oor wat vir my belangrik is, maar ook wat vir my moeilik is. Terselfdetyd weet ek dat dit nie so eenvoudig is nie aangesien ek as myself blog. Om dit te ontken, sou die hele oefening on-eg maak.

Laat ons inboorlinge van ons harte en waardes wees en uitbundig saam met die wind lag.

Elke outjie het sy lied

Hadida of zoeiiii-muskiet

Of dit fraai of goor of gek is

Jy moet sing soos jy gebek is.

Laat ons wees

wie ons is,

Mag ons lag aanhou lewe

In die ewigheid

se rus

  • In die woorde van Abrie dink hardop (vir homself)

2018

Minder dade deur die Self genereer

Meer liefde deur die Wind inspireer.

“Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”                                                                                                                  Johannes 3:8

 

23 thoughts on “‘n Ou fossiel of natuurlike ou jy – ‘n nuwejaarswens

    1. Dankie tannie Frannie ek weet jy is nie ‘n vleier nie en voel dus nie gevlei nie. Ek voel gewaardeerd.

      Mag die vleiloerie aanhou sing,
      hy is gebek om vir ons reën te bring.

      Seënwense vir Frannie ook.

      Liked by 1 person

  1. Liewe land daar spring my hart sommer van blydskap toe ek jou gesig sien. Jy voel sowaar soos ‘n ou bekende wat lanklaas gesien is. Mag die jaar vir jou en gesin oorloop van blessings uit God se hand.

    Like

Lewer kommentaar op travel460 Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.