Ek word gemanskap, gemaanskap, gekaap, geskaap, gekap ?

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to the photo challenges click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans

Na aanleiding daarvan dat Hester gevra het om ‘n eier te lê oor “manscaping”


James Bond in die persoon van Pierce Brosnan was besig om skelms op te blaas en op te foeter, die testosteroon het amper aan die brand geslaan so aksievol was die gebeure. Die fliek, wat op SABC uitgesaai is, word onderbreek met ‘n advertensie – seker sodat die testosteroon nie aan die brand slaan nie. ‘n Baie bedeesde en aksielose Pierce Brosnan besing toe die voordele van gesigsrome en ander liefderyk aanwendbare gel-agtige middels. Die aksie is perfek, ek bedoel die artikulasie is perfek en beklemtoon die verryking van die vel, met geen skelms wat die onderspit delf nie. Dit het net nie vir my gegel nie. Met dié metro-man insetsel het TOMORROW NEVER DIES ‘n koue stort geneem.

Manscaping is seker maar ‘n onderafdeling van die metro-man verskynsel met die onderskeid dat iets verwyder word, nie aangewend word nie. Verwydering kan natuurlik ook lei tot Hester se nie-bewonderenswaardige foto voorbeelde. In wese skep die metro-man se aanwending of verwydering enigiets van ‘n Adonis tot ‘n Narsis (met die hele spektrum tussen-in, sekerlik die meerderheid). ‘n Adonis en ‘n Narsis is natuurlik diep geestelike wesens. Hulle gusteling gesang is:

O Lord it is hard to be humble
if you’re perfect in every way
I can’t wait to look in the mirror
Cause I get better looking each day…

Ek het nogal my (haarlose) kop gekrap  oor ‘n potensiële vertaling vir Manscaping. Mens moet seker maar na ‘n dictionary toe gaan – nee nie ‘n woordeboek nie. Afrikaanssprekendes van weleer het Engelse woorde ver-afrikaans (die sondige anglisistiese voorgeslagte van ons darem). Dus nee, ek gaan kyk nie in ‘n woordeboek nie; die beginsel van dikstertmerrie (klink soos dictionary) word toegepas. Ek sit maar eerder die dictionary in hakies voordat ek besluldig word van onwelvoeglike benamings oor sekere dames se derrière !! Hier broei dus nou ‘n paar woorde of betekenisse in die eendjiebyter uit.

Manscape klink vir my soos manskap. Man dis mos nou lekker manlik. Leon Schuster het juis die “O Lord it is hard to be humble” wysie gebruik om die manskappe te laat saamsing:

Ag man dis lekker in die army
Van Tempe tot Grootfontein
Met ‘n ratel op Otavi
Of hoog in ‘n bos-aeroplane, ag man…

Ek sien al advertensie in my geestesoog: terwyl Pierce Brosnan in kamoefleerdrag die slegte ouens jaag met ‘n Ratel, kyk hy terloops op en bulder:  wees ‘n man en laat jou manskap!!

Dit herinner my ook aan die landskap wat nog braak lê, van weermag stories waaroor ek kan skryf .

Enige man wat skeer onderskryf manscaping. Dit is ‘n gegewe. Mens kry natuurlik grade van manskapering. Alle mans onderskryf nie noodwendig die verwydering van hare op die hele lyf nie (die uwe is so ‘n voorbeeld). In my geval is my oorblywende gryswordende hoofhare gemanskap. Nee ek is gemaanskap. Op ‘n goeie aand lyk ek soos die maan wat opkom, kompleet met kraters en knoppe op my maanlandskap.

3 van hierdie fotos is in Maart 2016 geneem, met die shavathon vir kanker met ‘n paar kollegas wat besluit het om hulle hare te kleur. Op daardie stadium het ek bepaald nie geweet dat ek in Oktober dieselfde jaar my hare sou laat afskeer in solidariteit met my vrou wat met kanker diagnoseer is nie. My vrou verkies dat ek nie oor haar kanker skryf nie, maar ek kan wel se dat die kanker volkome in remissie is. Ek het wel daaroor geskryf kort nadat ons uitgevind het: https://abriejoubert.wordpress.com/2016/10/03/o-my-soul/

Manscaping soos in die geval van Simson van Delila faam, kan jou ‘n blinde gevangene laat word. In Simson se geval letterlik maar ook simbolies. Om iets te doen omdat iemand anders wil hê jy moet dit doen maak jou ‘n gevangene van daardie persoon se voorkeure. Jou eie denke word gekaap  deur wat iemand anders wil hê. Simson se hare en wil is gekaap deur Delila.  Jy word gemans(kaap).   Hedendaags kan groepsdruk en media  professionele kapers wees en vang inderdaad ook man(skape). En ek sal maar wegbly van die regerings wat gekaap word onderwerp…

Maar as Absalom in die proses van manskapering ge/manskap/maanskap/skaap was of sy hare bloot kort gekap is deur ‘n haarkapper sou sy hare nie in die takke vasgehaak het wat hom ‘n maklike prooi vir die vyand gemaak het nie. En dan sou Dawid nie die bekende maar tragiese rou woorde ge-uiter het nie:

Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”  2 Samuel 18:33

Daar het natuurlik later weer ‘n Seun gesterf en aangesien sy Vader volmaakte liefde ken, het dit Hom nog seerder gemaak. Hierdie Seun het egter in ons plek gesterwe, sodat ons deur die Heilige Gees in ‘n verhouding met God kan kom. Die Vader het op die berg van verheerliking sy liefde verklaar: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug” (Matt. 17:5).  Die Seun het sy ontnugtering verklaar deur aan die kruis uit te roep: “My God, my God, waarom het  u my verlaat” (Matt. 27:46)

God het vir God verlaat sodat ons nooit Godsverlate hoef te wees nie.

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. 1 Joh. 4:10


http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=761578

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

The post Lê-Jou-Eier: Manhare maak nie die man nie appeared first on Dis Ekke.

 

33 thoughts on “Ek word gemanskap, gemaanskap, gekaap, geskaap, gekap ?

  1. Eerstens wil ek net sê, ek is uitbundig bly oor die goeie nuus wat jy wel vir ons gegee het oor jou vrou. Tweedens wil ek jou bedank vir die oorwurm(s) wat jy in my kop geplaas het en wat ek nou heeldag gaan loop en sing. Derdens, as Pierce Brosnan se gesig in ‘n advertensie verskyn, sal ek nie eens weet wat hy adverteer nie. Dis lekker om weer hier by jou te lees!

    Liked by 1 person

    1. Abrie, ek let op dat jou skakel nie op InLinkz is nie. Ek sal dophou en as dit teen sluitingstyd nog nie daat is nie, sal ek jou aanhaak. Ek verstaan die ding van ouderdom en vergeet … 😊

      Like

      1. Dis omdat my brein gedehidreer is hier in die Weskaap!! My geheue is gekaap. Kan jy dit oorvertel hier skryf ek heel entoesiasties voeg klomp links in die storie en vergeet van Inlinkz link. Ouderdom jou …

        Liked by 1 person

    2. …’n rang wil ek nie dra nie, met ‘n R1 hier styf teen my sy, ag man dis kekker in die army…
      Susan het haar laaste behandeling (Herceptin vir voorkoming) 2 weke terug gehad. Pierce Brosnan se eerste vrou is aan kanker oorlede.

      Liked by 1 person

  2. Abrie ek het nou so lekker hier gelees.Jy het n slag met woorde.Mans is maar meestal soos skape…🤣🤣
    Ek is ook bly om die goeie nuus te hoor en dit gee my moed, want tans gaan ons ook deur so ‘n trauma in ons familie.

    Like

    1. Hi Alba. In South Africa we have a day where money is raised for cancer sufferers. On the day you can either cut your hair and donate the hair for wigs to be made for cancer sufferers (applicable to those with longer hair). Or you can pay an amount and then your is coloured or you can simply cut your hair to show empathy with cancer sufferers. The collage also shows some of the team members at work who opted for the colouring option. That was in March 2016.

      You can also see my hair being cut. In March 2016, I was not to know that my wife would suffer from cancer in that year. And in October I cut my hair on the some day she cut her hair. I was a long and winding road but after a double mastectomy and treatment the cancer is in remission

      Liked by 1 person

      1. Oh I’m so sorry to hear that Abrie but I’m very happy to hear she is in remission.
        Sometimes I joke too much and don’t take things seriously so I hope I didn’t cause any distress with my silly comment.
        This is a lovely way to raise money btw.

        Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.