Kom kuier saam – as die lewe krap: KRABGAT

Krab is die Nederlandse spelling van daardie skeeflopendes met knypers (crab – soos in Engels). ‘n Gedeelte van die plaas lê in ‘n holte. Die Soutrivier en ‘n sytak loop daardeur; ek sou dit spruite noem, maar in die Weskaap is alles riviere. Krappe hou van water en siedaar: Krabgat.

Die huisie is geweldig fotogenies. Kom neem fotos hier en jy sal onmiddelik ‘n goeie fotografiese selfbeeld of meer korrek gestel, ‘n goeie selfbeeld t.o.v. fotografie hê.

Die sytak met pragtig kleurkontrastrerende plante – dit is nie net die huisie wat fotogenies is nie.

Die eienaar Danie het in my opinie ‘n fotografiese geheue en hy is wel  belese. Wanneer jy aan Who wants to be a millionaire deelneem is hy die tipe ou wat jy as Phone a friend wil hê. Ek self het ook ‘n besonderse brein maar dit is helaas fotogenies – mens kan goeie fotos daarvan neem…  Die ideaal is natuurlik ‘n fotografiese geheue en ‘n fotogeniese voorkoms. ‘n Model soos ek sou graag beter wou onthou!

Hierdie plaas is op ‘n ongewone manier bekom. Die naam Daniël het dit geërf. Die vorige eienaar, ‘n Joodse man met die naam Bobby Plein, kon nie kinders hê nie en het Danie se pa genader en gevra of hy sy seun na hom sal vernoem en die res is geskiedenis. Die verbintenis is darem nie heeltemal so lukraak nie. Bobby se doopname was Daniël Izak en sy vrou ‘n nooi neé Moolman was Danie se tannie. Krabgat is ‘n samevoeging van 2 plase naamlik Silverlee en Krabgat en die Moolman’s het op Silverlee geboer.

Langs hierdie graf is nog ‘n onduidelike grafsteen: “Ons liewe dogter” wat in 1930 oorlede is, ouderdom 16. Vreugde en hartseer het deur al die eeue heen saam gekoeksuster.

Danie wat in die Inligtingstegnologiebedryf is verhuur die plaas wat tussen Riviersonderend en Napier geleë is. Die Riviersonderend word opgedam deur die Theewaterskloofdam, nie dat mens dit op die oomblik ‘n dam kan noem nie (sien Cry the beloved country). Oorspronklik is die dam nie gebou om water aan Kaapstad te voorsien nie maar vir die verskeie boerderygemeenskappe soos Riviersonderend en Bredasdorp.

Die pypleiding vanaf Theewaterskloofdam.

Nou wat is ‘n manne-naweek sonder heerlike kos. Daar sou meer manne wees maar werksverpligtinge het hulle helaas weggehou – your loss. Die Vrydagaand se 4 minuut aan elke kant soos deur my foon gemeet gebraaide steak was heerlik en gemarineer met Danie se tuisgemaakte chilli-sous. Alhoewel chilli chilli is, maak hy hierdie sous sodat die geur en smaak nog geproe kan word. Dit is nie ‘n testosteroon gedrewe: ” ‘n man soos ek kan my brand vat” sous nie. Sulke souse laat “manne” in elk geval huil soos babatjies weens die effek wat dit op die liggaam en traankliere het. Ek kan egter wel rapporteer dat my gesin dink dit brand te veel – die sous wat Danie vir my gegee het is dus myne!

En dan was daar Saterdagaand se pot, laag op laag se heerlikheid en verryk met die chillisous. Boonop is die pot afgesluk met Merlot (kry vir jou Pieter) en die steak met Cabernet Sauvignon.

Die pot geprei oor Basmati rys en die kamera loer by die potjie chilli sous in

Vrydagaand het ek en Danie ‘n in-diepte gesprek gehad oor Bitcoin en meer spesifiek die tegnologie waarop dit gebou word naamlik die block chain. Ek het my bedenkinge oor Bitcoin maar sien die block chain as ‘n tegnologie met waarde: (sien The new content of the Emperor’s wallet).

Met die hoeveelheid transaksies wat deesdae gedoen word is die oorspronklik 1 mb block eintlik te klein en veroorsaak dit bottelnekke in transaksietyd en hy verduidellik toe wat daaraan gedoen word met die tekening onder links. Ek stuur die prentjie vir die ander lede van ons stapgroep met die boodskap dat dit geneem is nog voordat ons bloed daarop was, soos ons baklei oor bitcoin. Wickus stuur toe prentjie regs en ek reageer met: Danie moenie jaloers wees nie maar dit is die beste verduidelliking van block chain wat ek nog ooit gesien het!

Die Saterdag het Danie vir die eerste keer die grenslyn van sy plaas gaan stap. Die plekke hierbo genoem het ons toe aangedoen en nog ‘n paar hieronder. Indien dit my plaas was sou dit besonders wees om dit te stap en dit was vir my ‘n voorreg om saam te stap. Sien kommentaar onder die fotos.

Dit het 4 ure geneem om om die plaas te stap

As Danie my nie getreat het met die naweek nie, het ek hom geld gevra vir hierdie foto waarop hy so edel lyk. Die tipering van ‘n suksesvolle boer (uh bitcoin boer)

Hierdie foto wat Danie geneem het is ‘n bewys dat nieteenstaande sy fotografiiese geheue hy fotografiese groei benodig, want hy kry nie reg om my so edel te laat lyk nie.

Soos hier gesien kan word is die plaas ryk aan dierelewe! Daar is wel ‘n verskeidenheid van ander voels en ons het ook springbokke op die plaas gesien. En dan is daar natuurlik die krappe.

‘n Paar kraanvoëls vlieg oor die plaas en die goue uur se sonstrale verlig hul vlerke

Die graansilos by Rietpoel stasie. ‘n Wolk se skaduwee het direk langs die muur geval. Die eintlike kleur van die grond is ligbruin maar die skaduwee skep ‘n treffende kontras.

Hierdie is ‘n Canola plaas wat se produk hierbo gestoor word. Ek was verbaas was om te hoor Canola familie is van kool. Die plantjies wat plek-plek opkom lyk en ruik dan inderdaad soos kool.

Hieronder volg ‘n hele paar fotos van die huisie op Krabgat. Die hoofopstal van die plaas kan gesien word regs van die huisie in die “banner” van die post. Danie het die plat gedeelte laat aanbou en mure uitgebreek binne die gebou. Bo en behalwe die fotogeniese voorkoms het die plek binne ‘n heerlike ontspannende atmosfeer. Sy gesin het Kersaand 2017 vir die eerste keer daar oorgebly. Op die dag wat daar begin bou is het die bouer hom gebel en vir hom gesê hy moet op die voorblad van die Burger kyk:

Ek sukkel nog om my huis op die voorblad te kry maar ek slaag darem om hom van die agterblad weg te hou. Hieronder volg ‘n reeks fotos net om te wys dat hierdie huisie werklik fotogenies is.

Maar die grootste ontdekking van hierdie naweek was na aanleiding daarvan dat Danie deur ‘n by gesteek is. Skaars was die angel uit en dit tref my. Een van die grootste pharmaseutiese ontdekkings van alle tye! Hierdie gaan my ryker maak as die wēreld se rykstes. Meer geld as wat by Toweropstal gevind is. Nou weet ek hoekom Krabgat my aan Toweropstal herinner het.

Ouer wordende mans (wat my helaas insluit) word metteryd allergies vir kos – dit is waarom my maag swel. Die oplossing is om anti-histamien saam met elke ete te neem. Dit voorkom die allergiese reaksie op die kos en dus die swelling van die maag. Moet asb vir niemand sē dit is anti-histamiene nie, want ek gaan dit bemark as ‘n nuwe wondermiddel!!

Ons het darem nie net intellektuele beuselagtighede gebesig nie. Saterdagaand vra Danie my wat my waardes is. Die gesprek wat gevolg het kan ongelukkig nie hier bondig opgesom word nie. ‘n Paar weke terug het WordPress ‘n foto-uitdaging gehad met die titel my favourite place, ‘n plek waar jy bepeins. Ek het nie deelgeneem nie maar as ek hierdie plek besit het, sou dit my gunsteling plek gewees het. As die lewe krap, help dit nie om krapperig te raak nie. Gaan raak eerder stil, gaan Krabgat.

Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.” Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees.  Mark 6: 31 & 32

25 thoughts on “Kom kuier saam – as die lewe krap: KRABGAT

  1. Laat ek nou maar eers die laggedeelte agter my kry. By nou weet jy hoe lief ek vir lag is, en altyd die humoristiese eerste raaksien. Daardie onedele foto van jou het my myle se plesier verskaf 😀😀😀😀😀 Krabgat is baie, baie mooi en ek wonder ook of dit nie Toweropstal is wat opgeknap is nie. Omdat ek so lief is vir wolke vat daardie sonsondergangsfoto die koek. Dankie vir die kykie in jou naweek en pragtige fotos.

    Liked by 1 person

    1. Bly jy sien die humor raak. Ja-nee Danie is nie perfek nie want hy laat my nie perfek lyk nie! Maar as jy sukkel wil sien moet jy kyk waar ek die naweek ingeklouter het. Gaan seker weer raak kry daaroor

      Liked by 1 person

      1. By jou vrou of by ons 😀😀😀😀 Dit is hoekom ‘n man net een vrou moet hê. Wonder hoe dit met Salomo gegaan het???

        Like

  2. Wow, dis ‘n pragtige omgewing, Abrie. Daardie huisie is om van te droom, myle weg van alles en almal. As Danie iemand nog het om elke dag sy lyndrade na te gaan, sal ek aansoek doen vir die pos. Dankie dat jy ons laat deel het in jou naweek by Krabgat.

    Liked by 1 person

  3. Dis nou ‘n heerlike pos, Abrie! Lyk ook soos die opgeknapte Toweropstal. Dalk is dit gedoen met jou gedeelte van die “oes” en dat jy nou onder ‘n dekmantel maak asof dit ene Daniël se plek is. Met al die skelms in ons land, weet mens nooit nie!
    Fantastiese foto’s!!

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.