Wat het ‘n pug, ‘n perd, ‘n kokketiel, ‘n semi-rotweiler en ‘n Abrie in gemeen? Hulle is in die nies…

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to the photo challenges click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans for a blog challenge regarding experiences with animals.

My suster Carina en haar man het nie kinders nie maar wel 2 Pugs. Ek is oortuig dat ‘n pug nie goed ontwerp is nie, beide wat voorkoms en funksionaliteit aanbetref. Dit is egter ‘n bewys dat liefde niks met voorkoms of funksionaliteit uit te waai het nie want hulle “ouers” is albei baie lief Percy en Luca. My suster is van mening dat indien mens kinders kry na 40 lyk hulle soos pugs…

Sy nooi ons en ‘n paar vriende Saterdagaand vir brood en sop maar verplig ons om die koninlike troue te kyk wat sy opgeneem het. Die mans het probeer mutineer (mutiny on DSTV) maar ons halfhartige poging is besweer deur die vroulike kyke wat enige walvis sou deurboor.

Gelukkig  fast forward Carina met tye, anders het ons deurnag geseremonie. Luca die wyfie pug sit op my swaer Valdor se been en snork te heerlik terwyl die erediens aan die gang is. Johan haak af en sê gemaak streng vir Valdor om na die moederskamer te gaan want Luca raas te veel!! Het mos gesê ‘n pug is swak ontwerp, glad nie adellik nie en plaas ‘n man se posisie in gedrang.

**********

My jongste kind Elrike het in graad 5 ‘n kokketiel gekry en hom Kuifie gedoop (sy het verlang na ‘n man in die huis met ‘n kuif). Die benaming van diere het ondertussen meer gesofistikeerd geraak want einde verlede jaar (graad 8) het sy ons wyfie Rotweiler kruising (moontlik gekruis met ‘n pug) die naam Lexis gegee, afgelei van Alexis.

Ek nies gewoonlik 7 hewige niese in ‘n ry en my rekord is 13. As die krag van my niese in een nies saamgebind sou word, sal ek ‘n gat in ‘n ruit nies of die persoon langs my onderstebo nies. Dis dan ook die rede waarom ek een van die mees ge-(bles)sde mense is wat daar kan wees danksy al die bles(s) you’s. In winkels sal mense vra of ek allergies is vir iets en ek sal dan vinnig reageer met ja vir suurstof, wetenskaplikes vermoed ek is ‘n alien en dan rustig maak asof dit ‘n absloute logiese antwoord is. Ander mense het dan die vermetelheid om na my te staar asof ek ‘n alien is of iets wat die kat ingedra het.

Die kokketiel Kuifie kan nie praat, nie maar wel nies.  As ek begin nies, nies kuifie vir 2 tot 3 minute aanmekaar. En dit klink en lyk net soos ek (wel die liggaamstaal). Selfs sy kop en skouers beweeg ritmies vorentoe wanneer hy “nies”, nes myne.  Ek wil dit nog op video neem maar het nog nie so vêr gekom nie. Dit moet eintlik 2 kameras wees wat my en Kuifie gelyk verfilm. Kuifie sal ‘n YouTube hit wees.

**********

Lorraine met die standerd 5 Abrie op  haar rug is besig om teen ‘n vinnige pas te galop. Dit is letterlik die eerste keer dat ek perd ry en het nooit geweet dit is so maklik nie…

Deesdae ry ek egter ysterperd lite – die een sonder ‘n enjin

Die eerste paar 100m het nie gewerk nie. Die perd het getrippel en as Lorraine haar lyf op beweeg, beweeg myne af. My boude stamp op die saal, bons is die lug net om weer die ritmelose onvergenoegdheid te herhaal en dinge werk nie uit nie. Perdry is nie lekker nie; ek in standerd 5 kan nie eers perd ry nie. Maar toe Lorraine begin galop was dit ‘n ander storie, ons “click” kom in ritme en perd en ruiter sny soos een wese oor die grondpad. Die wind suis deur my kuif (standerd 5 onthou) en die volgende oomblik suis ‘n kleiner weergawe van een wese deur die lug, naamlik die uwe totdat swaartekrag daarin slaag om selfs my skraal liggaam in die plaaspad te laat neerplof.

Bewegingloos lê ek in die stof maar besef dan dat ek nie seer gekry het nie.  Die adrenalien laat my teen ‘n spoed van wit lig opspring.  Lorraine het met haar hoef in ‘n gat getrap wat haar laat struikel en stop het en ek het bloot reguit aan beweeg in lyn met oom Newton se 1ste wet van beweging. Ek is besig om te kyk of Lorraine seergekry het, toe my tannie in ‘n bakkie en ‘n werker daar aankom. En dit was helaas die einde van die perdry vir die dag aangesien die werker Lorraine versôrre het. Maar hy bevestig later die dag dat Lorraine nie seergekry het nie. En net daar vra ek my tannie of ek die môre weer kan ry. As ‘n perd jou afgooi klim op en ry weer!

Dit is môre. Die vorige dag het die werker die perd opgesaal en ondertoe geneem na ‘n lang reguit grondpad waar ek gery het (sien blou roete). Maar na die vorige dag se ondervinding is ek nou ‘n professionele ruiter. Groot man wat ek is (in standerd 5 onthou) `gaan haal ek die saal in die skuur en saal Lorraine self op. My emosies biggel tussen trots en verligting dat ek dit reg gekry het, terwyl ek die gordel styf trek om haar maag (dit help natuurlik dat sy mak is). Ons trippel/stap tot by die boonste pad en begin te galop – heerlik.

Ek wil nog reguit verder aan, maar Lorraine besluit om vir een of ander duistere rede om links te draai. Dit is natuurlik heeltemal onverwags vir my, gebeur terwyl ons vinnig galop en boonop swaai die saal 90 grade tot langs haar lyf met my wat klou vir lewe en dood en die doringtakke probeer vermy. Plaas van op die perd sit, hang ek letterlik langs die perd met die saal aan die kant van die lyf. Ek was weer ‘n slagoffer van Newton se eerste wet. Ek en saal wou reguit aan – perd nie. Eers na omtrent 50 meter dink ek daaraan om die teuels in te trek om haar tot stilstand te dwing wat nie vinnig gebeur het nie. Op daardie stadium het ek dit nog nie besef nie, maar dit was genade:

  • dat die saal nie nog verder afgegly het nie – ek sou stof geëet het kop eerste
  • dat ek nie in elk geval af geval het nie en my voet boonop in stiebeuel  vasgesit het
  • dat ek nie soos Absalom in die doringtakke vassgesit het of meer realisties my gesig gekrap is nie (perd het nie in middel van pad gehardloop nie).

Ek het daarin geslaag om af te klim maar kon nie verstaan hoekom dit gebeur het nie, en dieselfde werker van die vorige dag het aangestap gekom. Hy het my geleer dat wanneer ‘n perd opgesaal word blaas hulle hulself op. Mens moet ‘n entjie met hulle stap sodat hulle gewoond raak aan die saal en die gordel dan nog stywer trek. Perde wat lank in ‘n kraal bly is geneig om terug te wil hardloop na die kraal sodra hulle ‘n geleentheid kry. By sulke draaie moet mens die teuels intrek en effens wegdraai om dit te verhoed.

Ek is van mening dat ‘n fiets minder temperamenteel is…!

Newton se eerste wet: ‘n Voorwerp sal in rus bly of aanhou om teen ‘n konstante snelheid te beweeg tensy ‘n ongebalanseerde uitwendige krag daarop inwerk.”

Dag 1 – die blou roete en by die X het ek vir wyle gevlieg             Dag 2 – geel roete is gery en beplan totdat beplanning omver gewerp is by uitroepteken.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

Jou InLinkz skakel is http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=780871

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

18 thoughts on “Wat het ‘n pug, ‘n perd, ‘n kokketiel, ‘n semi-rotweiler en ‘n Abrie in gemeen? Hulle is in die nies…

  1. Ja-nee, hier is een ding waaroor ons saamstem Abrie, ek ry ook liewer met ‘n ysterperd; hulle het immers nie tande nie en ek wil nie ‘n ding bestuur wat meen hy kan vir homself dink nie. Dis erg genoeg dat my kar se komputertjie vir my sit en skree. Wou net sê, ek het ook eens op ‘n tyd ‘n kokketiel gehad en my man het hom geleer brandewyn drink, toe weier hy om weer water te drink. Ek het hom vir die diaken weggegee om hom te bekeer – my man het ek self bekeer.

    Liked by 3 people

  2. Ek hou vreeslik baie van skilderye van perde. Ook fotos. Dis al. Verder hou ek verby. Jou perdry storie klink bekend, ek het ook so een. As daar ñ regte enjin en ñ stuurwiel is, sal ek inklim. Anders nie.

    Liked by 1 person

    1. Daar is fotos wat ek in Toortsie se wêreld geneem het van perde wat ek nie kon opspoor nie wat ek wou gebruik 😦 op die oomblik pouse kyk Sound of Music by Artscape 🙂 🙂

      Like

      1. Is jy ook so bergfietsmal soos die klomp seuns (skoonseun ingesluit) op hierdie erf en gaan ry Sani2C ens oor berge en dale en laat die vrouens maar worry?

        Like

  3. Daar is fotos wat ek in Toortsie se wêreld geneem het van perde wat ek nie kon opspoor nie wat ek wou gebruik 😦 op die oomblik pouse kyk Sound of Music by Artscape 🙂 🙂

    Like

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.