‘n Bloemlesing uit my kinderjare

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to the photo challenges click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans for a blog challenge to write about your fondest memories as a child

Sonell is die verantwoordelike persoon wat hierdie blootlegging van my kinderjare veroorsaak het met haar uitdaging om oor die gelukkigste herinneringe in jou kinderjare te skryf. Enige radikale impak wat dit moontlik op my psige kan hê moet voor haar deur gelê word!

Sy het egter ‘n paar susters met arms (met apologie aan Dire Straits) en hier dink ek spesifiek aan die nuwe blogger (in hierdie geledere) Liza M Roux. Sy is nie Lisa oor wie se klavierspel Koos en ander liries raak nie. Nee, sy is Liza van Country Living op ‘n plaas in die Oos-Vrystaat naby Bloemfontein. En daar in my geboortedorp, korreksie stad gaan geniet sy onder andere die geure en smake van goeie, selfs verantwoordelike koffie.


D.J. Opperman, ek vra verskoning dat ek hierdie skrywe die ver-edelde naam van Bloemlesing gee – dit kwalifiseer nie.

n Bloemlesing is ‘n publikasie wat ‘n versameling literêre werke van ‘n skrywer of skrywers bevat. ‘n Bloemlesing kan die beste stukke van verskeie skrywers bevat, of die beste stukke van ‘n spesifieke skrywer. Dit kan ‘n versameling van gedigte, kortverhale, toneelstukke, liedjies of uittreksels wees.

My skrywe is dus geen:

Groot verseboek: ‘n bloemlesing uit die Afrikaanse poësie; Diederik Johannes Opperman; Nasionale Boekhandel; 1952.

Soos jy weet D.J. (as jy nie omgee dat ek jou so noem nie) is die oorsprong van die Engelse weergawe van bloemlesing, anthology, uit die Grieks antho (blom) en logia (versameling/bymekaar maak). Bloemfontein is waar my oorsprong is, waar ek bymekaar gemaak is en vandaar die bloemlesing. D. J. het nadenkend sy kop geknik.

********

My eerste herinnering is op hoorsê want ek kan daarvan niks onthou nie. Wanneer ons in die aande by mense gaan kuier het, het ek later by ma aan die slaap geraak en wanneer ons terug huis toe ry sou ek wakker word. “En waar gaan ons nou kyder” was aldus my ma my standaard reaksie. Ek neem dus aan ek moes die kyders geniet het, al het dit beteken dat ek my weer aan die slaap huil, wanneer ek ingelig word dat ons nie verder gaan kyder nie.

Die eerste beroepe waaraan ek blootgestel is, was die van posman en die roomysverkoper. Albei fietsryers. As 4 jarige was dit uitsonderingsgevalle as ek wel roomys kry, ten spyte daarvan dat ek na my ma sou hardloop met groot entoesiasime elke keer as ek die klokkie hoor. Die heerlikheid van die roomys was natuurlik nie te vergelykbaar met die briewe wat meer gereeld gekom het maar vir my as ongeletterde geen nut gehad het nie. Die posman was egter vriendelik en het met my gepraat en dit het ‘n impak op my kindergemoed gehad. My eerste beroepsvoorkeur was om eendag ‘n posman te word. En dit het waar geword. Netnou pos ek hierdie briefie.

Meisies. Ek kon nie ouer as 5 gewees het nie want dit is op daardie ouderdom wat ons Transvaal toe getrek het. Ek en my suster (5 jaar ouer as ek) was in ‘n parkie in Bloemfontein. Sy het gesien hoe staar ek na ‘n dogtertjie. My suster het vir my gevra of sy mooi is. Vandag kan ek glad nie onthou hoe sy gelyk het nie maar die 5 jarige het aan haar die mees intensiewe vorm van skoonheids- en liefdesverklaring toegedig wat moontlik is: “Sy is oulik”.

Die uwe, 5 jaar oud

Dit was in standerd 3, Laerskool Maria van Riebeeck, Germiston. Die skoolleuse was Waag en Wen, maar ons is nie geleer om te Waag nie en met meisies had ek nog nooit gewen nie. Nie eers die vrymoedigheid gehad om te probeer nie. Lynette was in my klas en ek het vir die eerste keer redes gesoek om met ‘n meisie te gesels en besluit om te Waag. Ek het vir haar ‘n briefie geskryf en gevra om te kys … en sy het JA gesê!!!

Daardie middag het ek soos ek dikwels gedoen het, ‘n bal teen die garage se mure gehop en gevang. Maar daar was ‘n verskil ‘n borreling ‘n vreugde, sy is lief vir my, sy het ja gesê. Soos wat ek die bal gegooi het het ‘n wonderwerk gebeur, dit is nie die bal wat na my toe terug gekom het nie, nee dit was Lynette se gesig!

Die volgende oggend stap ek met ‘n ligte tred en ligte hart op wolke na die skool. Om my tas te gaan neersit moet ek verby die mediasentrum gaan en daar sien ek hoe Tjaart vir Lynette vasdruk en vir haar ‘n soen gee!! Dit het nie gelyk of sy hom probeer stop nie… Ek – haar gekysde – sal dit nie eers probeer nie. In die registerklas het ek my tweede briefie in 2 dae aan Lynette gerig: Ek is nog steeds lief vir jou, maar is nie bereid om jou met ander te deel nie. Ek verbreek ons kys.

‘Tis better to have loved and lost than never to have loved at all. Alfred Lord Tennyson

Dit sou eers weer op universiteit wees wat ek weer toenadering tot ‘n meisie sou soek en nee ek het nie vir haar gevra om te kys of gesê sy is oulik nie.

Ek kan nog baie sê maar hierdie brief is al klaar dik en gaan reeds sukkel om in die koevert te pas.


Aangesien D.J. my nie intellektueel van die tafel probeer vee het nie, eer ek hom daarvoor met onderstaande. Hy en sy kinders het in Stellenbosch skoolgegaan. Sy dogter was in die skool Denne-oord. In 1969 het dit met ‘n nuwe gebou Laerskool Stellenbosch geword. Die eerste skoollied wat Opperman geskryf het, was amper soos ‘n kleuterrympie en beeld die plesier van kindwees uit. Hy is later gevra om dit aan te pas (die 2de weergawe en steeds die skoollied van Laerskool Stellenbosch).

Op Stellenbosch
wip-wip ons voort,
eekhorinkies van Denneoord.
Ons samel kos
langs waterstroom,
en klim-klim
teen die hoogste boom.
Die uurglas sak,
maar in U lig
doen-doen ek slegs
vandag my plig.

Skoollied

Ek dien my vaderland
in sport en klas
as ek onthou:
die sand sak in die glas.

Daarom sal spel en boek
my beste verg
eekhorinkie wat soek
en kennis berg.

Daarom my erewoord:
Heer, ek verrig
as kind van hierdie oord
vandag my plig.

WOORDE: DJ OPPERMAN
MUSIEK: H DU PLESSIS


Brothers in arms. Uitgereik in my matriekjaar


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel.

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=781922

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

27 thoughts on “‘n Bloemlesing uit my kinderjare

    1. Dankie Tannie Frannie. Terwyl ek dit geskryf het ek aan jou gedink en gehoop tannie sal dit geniet. Hierdie skrywe het en nogal geniet veral in gesien dat ek 2 dae terug nie geweet het waaroor ek gaan skryf nie.

      Liked by 1 person

  1. Abrie, ek is bly om jou hier raak te loop. Kan nie lank gesels nie, want ons het nie ‘n internetlyn nie en ons probeer kliënte oor die weg help op selfoondata. Ek kan nie e-pos gebruik nie (met die hoeveelheid gekoppelde e-pos adresse wat ek het, vreet dit my data binne 5 minute op) en ek het nie ‘n whatsapp vir nommer vir jou nie. Ek het onthou dat jy vandag die nuwe onderwerp vir die lê-jou-eier skryfsafari moes plaas en ek het gewonder of jy daarvan onthou. Ek het in elk geval vir jou ‘n InLinkz skakel gaan skep, sommer onder jou eie naam en jy kan dit net so gebruik: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=784470. Plaas maar die onderwerp wanneer jy gereed is, ek sal weer inloer wanneer ek kan en seker maak dat die skakel oop bly.

    Liked by 1 person

    1. Vir een of ander duister rede het ek gedink dit is volgende week. Ek het nogal gewonder wat dit sal wees want ek het nie ‘n idee nie maar terwyl ek hierdie lees het ek ‘n idee gekry. Ek sal nie later as more oggend dit opsit en solank waarskywing op hierdie post sit.

      Liked by 1 person

  2. Abrie jy was ‘n “pragtige” (handsome klink nie reg vir ‘n seuntjie nie.) seuntjie. Bly jy handaf jou beroep as posman…. ons lees graag jou briefies 😊

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.