Ek word ‘n vyand van korttermynversekeringsmaatskappye…

Dit is nie uit eie keuse dat ek ‘n vyand geword van diegene wat nie wil hê dat voertuie beskadig word nie.  En nee dit is nie omdat hulle nie ‘n eis uitbetaal het en ek suur druiwe het nie (hulle is nie my vyand nie – ek is hulle vyand).  Dit is omdat ek eise kan veroorsaak by ander mense (en nee ek ry nie roekeloos nie). Sal seker moet verduidellik.

Natuurlik begeer ‘n voertuigeienaar glad nie dat sy of haar voertuig beskadig word nie, maar in die groter prentjie word beskadigde voertuie nog meer gevrees deur hulle wat eienaarskap neem van aktuariële berekeninge. Sien dié berekeninge bepaal watter premie gehef moet word ten einde wins te maak. Beskadigde voertuie beteken ongelukkige personeel wat harder werk vir kleiner bonusse en ongelukkige aandeelhouers wat uitkyk vir aandele wat groter dividende uitbetaal aangesien die maatskappy waarin hulle belê het se wins afneem. En dit is alles Abrie se skuld.

Ek het die X-trail 3 dae lank besit toe ek rustig teen die stedelike spoedgrens van 60km ‘n uur in een van het lieve Wellington se strate afry. Skielik sien ek ‘n duisend-rand-voël opvlieg en die volgende oomblik verander die vorrruit in ‘n spinnerak. Ek moes mooi kyk om deur die gekraakte ruit te kan sien. Die naam klink dalk ietwat vreemd, maar nee die is nie ‘n seldsame spesie wat op die rand van uitsterwing is nie. Dit word vernoem na die gevolge daarvan en die volledige naam is die “Gekolde-kolhou-duisend-rand-bybetaling-voordat-voorruit-vervang-word-voël” (GKDRBVVVWV) wat minder ingeligte mense ‘n meer tradisionele naam gee.

Op die oomblik op die Woordfees by Stellenbosch word elke dag 5 nuutskeppinge uitgelees waarvoor luisteraars kan stem. Interessant genoeg is een van hierdie nuutskeppinge waaroor die hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) Dr Willem Botha gaande was, boeibaadjie. Hy het nogal genoem dat al alternatief wat ons tans het is dwangbuis. Ek dink hy het Hester se skrywe oor straitjacket gelees. Boeibaadjie Hester en basta met die buise. Dit is seker moontlik vir een van die ander nuutskeppings om onder ‘n baadjie uit te steek (maar seker darem nie onder ‘n boeibaadjie uit nie). ‘n Poging wat onmiddelik ‘n gelag in gehoor uitgelok het is ‘n voorgestelde altetnatief vir cleavage: koggelklofie!!

Die Gekolde-kolhou-duisend-rand-bybetaling-voordat-voorruit-vervang-word-voël is natuurlik ook ‘n nuutskepping en alhoewel dit wetenskaplik omvattend akkuraat is (klink boon-op soos meesters of doktors-tesis)  het ek besluit om nie in te skryf nie.  Ek gun ander mense die pryse want na ‘n week in Hartenbos het ek besluit ATKV-oorde is te oorbevolk (vakansie in enige ATKV-oord is die eind-prys).

Ek sou erken dat die akroniem (GKDRBVVVWV) ook ietwat moeilik sal wees om pos te vat so kom ons gebruik maar die meer bekende term: TARENTAAL…

Wat my terugbring by die korttermyn vyandskap. Dit is op my afgedwing.  Ek is ‘n slagoffer van plakkery –  ja my erf is onwettig betree sonder my (en my getroue wagkatte) se toestemming en die plakkershut is opgeslaan sonder dat ek of die katte dit eers agtergekom het. Die fotos hieronder dui aan dat die hut tot barstens toe vol is. Dit is hoekom hulle instinktief weet dat hulle doel in die lewe is om voorruite te laat bars. 32 eiers is minstens 32 voorruite maar die realiteit is daar is ‘n kroos wat nageslagte op nageslagte se voertuie kan verwoes. Dit is die tipe ding wat aktuarisse aan akute stres laat lei.

En op hierdie stadium kan ek maar noem dat hierdie ‘n opvolg is van die skrywe LOCAL is LEKKER (amazing/enjoyable/preferable), waarin ek verskeie kere ‘n opvolg belowe het en dit nou uiteindelik gebeur.

Die samestelling van ‘n Tarentaal is vreesaanjaend effektief om ruite te breek, met nie net een nie maar 2 “snawels”.  Maar die natuur kan ook maar wreed wees. Hierdie Tarentaal se snawel is half uitgedroog en sy (as sy ‘n sy is) lyk half sieklik. Ek het haar jammer gekry vir haar medisyne gegee en die foto daarna lyk sy baie beter.

Na my medisyne het sy inderdaad baie beter gelyk. As julle ooit siek tarentale het bring hulle na my toe want ek is ‘n uitstekende tarentaal dokter, nee spesialis. Dit kan ook wees dat ek die foto hierbo 90 grade gedraai het sodat die horing op haar kop pryk waar haar snawel gewoonlik is en dat die foto hierbo en hieronder dieselfde foto is…

En reg van voor is daar ‘n simmetriese balans wat grens aan die vreesaanjaende! Die van julle wat LOCAL is LEKKER  gelees het sal onthou dat ek meer akuut as die aktuarisse in daardie skrywe gestres het. Wat gaan die 2 wagkatte doen as die eiers eers uitgebroei het (aangesien hulle gereeld duiwe vang en dit steeds ‘n misterie is hoe hulle aanvanklik nie die nes raakgesien het nie)…!!!

Afhangende hoe jy hierna kyk het hierdie verhaal ‘n goeie of baie slegte einde. Ek kan rapporteer dat die katte geeneen van die kuikens gevang het nie (die goeie nuus) aangesien geeneen van die kuikens uitgebroei het nie.  Op ‘n stadium was ek elke oggend op ‘n afstand vanaf die nes, kamera in hand, en weer sodra ek van die werk af kom.  Ook besig om planne te maak wat ek kan doen om die kuikens te beskerm. Maar mettertyd het ek en die tarentale besef dat daar niks gaan gebeur nie. Dis was jammer maar ook ‘n verligting. My jonste dogter is baie sensitief oor diere wat doodgemaak word, selfs deur haar geliefde katte.

Is daar ‘n pa onder julle wat as sy seun vir hom ‘n vis vra, vir hom ‘n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ‘n eier vra, vir hom ‘n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra. Lukas 11:11-13

 

17 thoughts on “Ek word ‘n vyand van korttermynversekeringsmaatskappye…

  1. Twee-en-dertig eiers? Liewe ouerpaar, hoe het hulle gemeen om almal uit te broei en groot te maak? Ek hou van boeibaadjie Abrie en ek is bly om te hoor dit was voorgestel. Ek hoop die dwangbuis-anties se bloeddruk bly onder beheer.

    Like

    1. Dankie Positief. Met Hester se eier -le-ery was ek genoodsaak om stories uit te dink. Maar daar gebeur soveel dinge in my lewe dat ek eintlik net wil oorvertel wat gebeur. Daar is eiers in my erf gele vorrdat Hester met haar eier le-ery begin het

      Liked by 1 person

  2. Jy het my amper gevang met die uitgedroogde bek…jou ou skelm!
    Ek wonder ook wat het verkeerd gegaan met die eiers? Miskien het hulle aangevoel, katte wag daarbuite!

    Like

  3. Verstaan ek hierdie ding nou reg… ‘n tarentaal was die oorsaak van jou gekraakte motorruit… en hulle is ook die ongewenste plakkers. Wat is nou die grootste skade; jou motorruit of onuitgebroeide kuikens? Jy maak my kop deurmekaar!!!

    Like

    1. Kameel nou gaan ek jou eers deurmekaar maak. Die tarentaal word anologies aangewend om vleis aan my verhaal te gee. Dit word ook allegories aangewend om uit te wys dat daar verskillende belangegroepe in die wereld is met verskillende prioriteite. Die besighede wat moet wins maak. Die Tarentale wat moet kuikens maak en die katte wat droog maak met hulle jaginstink. En dan is dit vrek ironies dat ten spyte daarvan dat een van die tarentale se maatjies sy lewe opgeoffer het om my voorruit in ‘n spinnerak te verander, dat ek toe “geseen” word met ‘n nes vol eiers op my werf. Maar Kameel jy weet mos, Einstein se look-alike Mark Twain het ook dit gedoen.

      Like

      1. Abrie so baie soos ek van Mark Twain hou en so lekker soos hy my laat lag net so deurmekaar kan hy my kop met tye praat. So Mark… ag ek bedoel Abrie, daar het jy nog iets in gemeen met hom. Ok, ek verstaan darem nou dat ‘n tarentaal in ‘n straitjacket….of is dit ‘n buis…. jou voorruit wel beskadig het, en dat daar nie tarentaalkuikens gaan uitbroei nie. 😀😀😀

        Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.