Kom plaaskuier saam op Muldersbank (Oudtshoorn)

  • To access the WordPress photo challenges (which are in English) click here
  • To access my other English posts not related to WPC click here
  • The post underneath is in my home language Afrikaans

To my English enabled friends: this post is about the past weekend when we visited family in South Africa’s Ostrich Capital Oudtshoorn. One of my cousins, an ex-ostrich farmer himself, developed a Guest House in Oudtshoorn and while what is stated in cursive print comes from his website I can assure you it does not supersede the reality.

A beautifully landscaped garden surrounds this Cape Dutch gabled home. Relax in a sparkling Victorian swimming pool, enjoy sundowners on one of the two roof terraces or simply while away the time bird-watching.  The design was inspired to offer guests the ultimate luxury and tranquility. Reside in four elegantly furnished en suite double rooms with works of original South African art.


Die Lente sonnetjie bak heerlik en tannie Elsa sit in die pragtuin van die Muldersbanktuiste.  Uh korreksie, verlede jaar was hierdie ‘n pragtuin. Die prag het getaan maar nie weens ‘n watertekort nie – nee die oorsaak daarvan is baie meer onheilspellend! Haar seun Theuns se lammers is in die plaaslike Hoorn vereer danksy ‘n rekordgewig (gemideld 80.1 kg) en tannie Elsa is van mening dat dit die gevolg is van die Malva-dieet wat die skape gevolg het. Theuns het haar aanvanklik vreemd aangekyk toe sy hierdie insig met hom gedeel het, maar mettertyd besef dat sy (nog) ‘n steek inkry vir die keer toe die hek oopgelos is en Theuns se (op daardie stadium maerder) skape alles in haar tuin tot op die grond toe afgevreet het!

Volgens die byskrif op die foto in die Hoorn is die skape se gevorderde gewig te danke aan die veevoer wat Theuns meng (duidellik het hulle het nie ‘n onderhoud met my tannie gevoer nie en weet dus nie hoe die hef eintlik in die veevoervurk steek nie). Ek noem die eer wat Theuns se skape toegeval het aan my ander boerneef, Jaco, en hy mompel iets dat dit danksy hom is dat die skape so gewigtig is!? My vraende blik vereis ‘n verduideliking: “Genetika – as dit nie vir my ramme was wat sy ooie gedek het nie, sou hulle nie daardie gewig gehaal het nie”.

Wel daar het jy dit; dit is hoekom prokureurs en prokurowers soveel geld kan maak – te veel weergawes van ‘n verhaal. Ek gaan egter ‘n paar woorde in die mond van my kunsneef Morkel lê by wie ons nie die naweek uitgekom het nie. “As dit nie vir die grond was wat ek aan Theuns verkoop het nie, waarop die lusern groei wat hy gebruik om die veevoer te vervaardig, sou die skape nie so vet gewees het nie”.  ‘n Fiktiewe opmerking wat Morkel dalk wel sou kon maak indien hy genader word vir kommentaar.

Terloops my tannie die Materfamilias bly na die afsterwe van die Paterfamilias, oom Hannes, nog alleen in die huis op Muldersbank. Theuns en sy gesin woon in die huis op Muldersbank en Jaco en sy gesin woon in die huis op Muldersbank. Is hulle van Italiaanse afkoms en onlosmaaklik verbind aan die Materfamilias? Wel op ‘n Sondagmiddag sal hulle terloops by hulle ma inloer, korreksie by hulle ma se kosbakke inloer maar ons praat darem van 3 verskillende huise op die plaas/plase Muldersbank³.  Sondagmiddag was hierdie die wonderbare hoofgereg (saam met minder belangrike bykosse…). Dit is dus verstaanbaar waarom hulle op ‘n Sondagmiddag baie lief vir ma Elsa kan word.

Morkel het met die geld wat hy verkry het weens die verkoop van die skaap vetmakende grond aan Theuns ‘n pragtige gastehuis ontwikkel in Oudtshoorn. En die naam daarvan is… wag vir dit…  wag vir dit…nee nie Muldersbank nie! Morkel het op ‘n stadium as tiener vir my gesê: “miskien kom ek af die plaas af maar dit hoef nie te lyk asof ek af die plaas af kom nie”. Hieronder is 2 fotos van TERRA BIANCA wat ek gekry het op sy webwerf: www.terrabianca.co.za .  Dit is duidellik dat Theuns se skape nie hier gewei het nie, want hierdie tuin is steeds ‘n pragtuin en die gastehuis spreek vanself. Morkel was al verskeie kere koördineerder van Visuele Kunste by die KKNK.

⇓Die “voer wat gemeng word” is ietwat van ‘n understatement. My boerneefs Theuns en Jaco was van die eerstes wie se volstruise ‘n klompie jaar terug uitgesit moes word toe voëlgriep in Oudtshoorn identifiseer is. Dit is nie maklik om te sien hoe jou langtermyn lewensonderhoud vernietig word nie. Theuns het die besluit geneem om nie weer volstruise aan te koop nie en masjiene ingevoer wat lusern en ander bymiddels fynmaal en meng om korrels te vervaardig wat as dierevoer gebruik kan word. Dit was ‘n groot uitgawe en ‘n waagstuk . Hieronder is amper iets soos ‘n fabrieksaanleg wat die masjiene huisves. 

⇓Theuns slaag darem daarin om ‘n paar sakkies van hierdie veevoer te verkoop en daarom is hierdie lewengslange vragmotor vir die vervoer daarvan nodig. Een van 2, alhoewel die ander een kleiner is.  Theuns en sy 2 volwasse seuns boer nou op hierdie gedeelte van Muldersbank.

⇓Daar is onkruid wat mooier blomme as hierdie plant het, maar dan hierdie is nie onkruid nie. Lusern is die kern van Theuns se boerdery en die vragmotor hierbo woord aangewend om lusern bale uit verskeie plekke in Suid-Afrika te gaan haal vir verwerking. Die verwerkingsmasjiene loop dikwels 24 uur weens aanvraag vir die veevoer.

⇓Hierdie is Theuns en sy vrou Soekie se huis. Die middelvleuel van hierdie huis dateer uit 1852 en die kleur aansienlik meer onlangs. Ek het amper die DSTV skottel gaan afbreek wat die outentieke voorkoms bederf voordat ek die foto geneem het…

⇓Hieronder is van my ander neef Jaco se geneties superieure Ile de France skape… Sy ook pragtige huis is in die agtergrond. Hierdie foto is vir my ‘n toonbeeld van plaaswees. ‘n Rustgheid en skoonheid in eenvoud.

⇓Die pragtige uitsig vanaf Jaco en Klara se huis hierbo met sy beeste wat rustig wei. Hierdie foto is Desember geneem. Al die ander is die naweek geneem.

⇓Hier ondersoek Jaco en ‘n vriend waarom die swartskaap se been lam is met die kinders wat bekommerd toekyk en my dogter (bruin hare) wat direk daarna gesê het dat sy miskien ‘n vee-arts moet word. Die vorige dag het Hannes wat in graad 1 is (sien eerste foto) die hek toegemaak. Dit is nie so eenvoudig nie want dit is ‘n wispelturige plaashek. Ek was saam met die kinders agter op die bakkie. Skelik hoor ek Jaco se diep stem uit die kajuit ‘n ondersteunende geluid maak en sê “baie mooi”. Dit was die eerste keer dat Hannes dit reggekry het (dalk het die teenwoordigheid van my dogters gehelp 🙂 ) Met sy pa se openlike goedkeuring het Hannes se gesig gestraal. So word ons en ons kinders voordurend in ons menswees beïnvloed.

Pa Jaco en Hannes besig om te boer. In die aand jaag hulle die bokke en skape in krale in aangesien die ongediertes  (jakkalse) ‘n groot bedreiging geword het.

⇓Wilde voëls word darem ook gevoed. Hierdie granaatboom is oortrek van dor granate wat almal uitgehol is. Die takkie het klein blaarties wat lewe voorberei vir die voëlfees wat volg in die somer.

⇓Die vrug van ‘n turksvy in wording, omtrent 2 cm lank. Verbeel ek my of is daar nogal ‘n ooreenkoms tussen ‘n baba turksvy en ‘n protea?

⇓Ek sou verkies het dat die pou op ‘n heuwel met blou lug en net blou lug agter hom gepronk het en nie met o.a. asblikke agter hom nie. Maar dan die 2 poublou asblikke lyk nie te sleg nie…

⇓My oudste dogter Irisna by Jaco en Klara se seun Hannes wat in graad 1 is op die lang stoep van tannie Elsa se Muldersbank. Hierdie is ‘n baie intelligente kind. Hy het vir Irisna gesê as sy regkry om ‘n John Deere trekker te teken hy vir haar ‘n drukkie sal gee… En die byskrif by die trekker is: Hannes is die beste & Irisna en Elrike lief hom baie (wat mens nie ook vir ‘n drukkie sal doen nie)!

⇓In die aande het ons heerlik Rummykub gespeel. 

⇓Hierdie foto het ek Maandagmiddag op die Du Toitskloof pas geneem op pad terug Kaap toe. Moenie verbaas wees as dit en ‘n paar foto-maatjies in ‘n foto-uitdaging opdaag nie.

Die materfamilias Elsa regs en haar suster Joey. Na my ma oorlede is het tannie Elsa my 2de ma geword.  As kind met die kuier in Hartenbos waar sy steeds bly, was tannie Joey my gunsteling tannie (terloops Joey se hare is nie gekleur nie). Elsa word volgende jaar tagtig en Joey is dit reeds. Hulle verteenwoordig die oorspronklike 5 susters en broer.

Tannie Elsa vertel dat sy en Joey verlede week gaan koffie drink het nadat sy haar inkopies gedoen. ‘n “Ou man” wat gereeld met haar geselsies aanknoop wou weet of Joey haar dogter is! Ek het toe maar genoem dat enige gedagtes wat die “ou man” gehad het van verdere assosiasie met haar sekerlik in die kiem gesmoor is. Tannie Elsa se humorsin word oortref deur haar geloof. Muldersbank is in Volmoed sowat 10 km buite Oudtshoorn. Hulle kry hulle water uit die “puts” wat met tye opdroog. Die opmerking wat my gaan bybly (saam met Jaco se goedkeuring van sy seun), is dat sy al verskeie kere die aande by die dam waarna die water vir gebruik gepomp word met die Here geworstel het en Hom gevra of hy dan van Volmoed vergeet het. Die Vader het keer op keer vir haar gewys dat Hy nie van Volmoed vergeet het nie.

Die Vader het sy Seun aarde toe te stuur omdat ons sy goedkeuring wegdra en Hy nooit van ons sal vergeet nie.

22 thoughts on “Kom plaaskuier saam op Muldersbank (Oudtshoorn)

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.