Eish geen ys!

English bloggers, for my latest Lens-Artist post click here.

This post is in my home language, Afrikaans about a weekend spent rowing on a river in South-Africa


Elkeen van die episodes van Die Sport van mindere mans kan op hulle eie gelees word maar hier is samevatting:

In episode 1 daag ‘n seun sy pa na die dag se roeiery voor die ander mans uit om teen ‘n sandduin uit te hardloop. My vriend Danie harddloop saam terwyl ek die sport van mindere mans beoefen (bal gooiery in die rivier). Boonop is Danie eerste bo en gaan aan of hy die olimpiese spele gewen het… lees hier

In episode 2 oortuig ons Danie om weer daar uit te hardloop maar die keer teen die werklike Olimpiese atlete (ek en Wickus….) lees hier


Episode 3

Vroëer die dag het ons onder andere gelui-lekker en gestokkie-lekker, maar met die rampspoedige resies teen die duin uit in my gekneusde gedagtes, is vroëer die dag reeds die goeie ou dae.

Terwyl ek rustig ontkneus by die lang tafel biertjie in die hand, kom iemand wat dieper beswaard is oorkant my sit. Sy moes my aangesien het as een of ander geestelike want sy het emosioneel uitgepak en uitgepak. Ek het selfbewus by my nek rondgetas om seker te maak dat een of ander poetsbakker (Danie), nie dalk ‘n priester se wit kraag op my hemp geplak het nie. Danielle het vertel dat sy baie moeg is want sy moes wie weet hoe vêr stap. Ek het so in my stilligheid gedink dat die afstand vanaf die kanos darem nie sό vêr is nie, maar haar woorde het my gedagtegang onderbreek deur te verklaar dat Bucket hier weg is met sy bakkie om vir Jacques (haar man) te gaan help want die kar sit vas. Die kar sit vas (as die basis van jou naam Danie is gebeur dinge duidellik met jou)?

“Ja, ons het ys gaan koop in Worcester om die wyn koud te maak en toe ons terugkom het die kar gaan vassit in die los sand”, verklaar sy passievol maar ook met embarraserende glimlag. Ys koop? Ek het gewonder of hulle ‘n paar ton ys gekoop met dienooreenkomstige motor vassit gevolge, maar eerder nie gewaag om my gedagtes te verbaliseer nie.

Siende dat ek nog nie ‘n woord ingekry het nie (stil outjie wat ek is) noem ek toe maar as ‘n ysbreker dat dit jammer is dat ek nie geweet het hulle soek ys nie (uhm..) aangesien ek wel ys het. Die oomblik toe ek dit noem besef ek dit was ‘n fout. If looks could kill en die verontwaardigde “jy het ys!” kreet. Die pastorale trant van die gesprek was onmiddelik daarmee heen en die atmosfeer ysig. Ek was die oorsaak van die probleem – verbeel jou ek het ys. Haar glimlaggende embarrassing demeanour het verander na die van ‘n ysige (dog yslose) Ice queen. Ek het gewonder hoe ek hierdie situasie (en die naweek kon red) en besef dat ek darem nog ‘n ysige kaart in my mou oor het waarmee ek die ys kon laat smelt: haar behoefte om die Sauvignon Blanc koud te drink.  Ek het toe maar die paar tree oorgestap na bucket (nee nie na Bucket waar die kar vassit nie) na my ice bucket.

 Danielle kon nie anders nie en het het die aanbod gedwee aanvaar – sy kon immers nou al  haar koue wyn geniet. Na ‘n paar slukke was my status as pastorale begeleier weer herstel, wit kraag en al en het sy begin uitvaar (uh deel) oor wanneer Jacques en Bucket dan nou terugkom met die kar, dit is netnou donker. Nie dat sy geweet hoe hulle gaan slaap nie want jy kan nie glo watse klein tentjie Jacques gekoop het nie! Hoe gaan hy daar inpas?

Hierdie was nie ‘n emosionele opmerking van iemand wie se naam met Danie begin en daarom gebeur daar net te veel in haar lewe op een slag met gevolglike irrasionele uitsprake nie. Dit was ‘n yskoue beredeneerde, rasionele en geldige opmerking. Jacques soos die foto getuig is nie die korste mens op aarde nie – ek het ook foutiewelik gedink voordat ek saam met Danie en Jacques gaan stap het, dat ek ook nie die korste mens op aarde is nie maar nou ja feite spreek vanself. Wickus wanneer gaan stap ons weer? Die klein 2-persoon tent waarna Danielle verwys het kon dalk bietjie knap vir Jacques gewees het!

_20150808_132944_4378

Bo-op Victoriapiek Stellenbosch. Foto geneem via die app op my foon

Danielle het oor baie dinge gesels en ek kan nie als onthou nie maar o.a. ook vertel dat slange nie haar beste vriende is nie en dat swem in die rivier vir hierdie rede nie vir haar ‘n opsie is nie (sê mos pastorale gesprek). Met Jacques se aankoms het sy hom omhels en alle vassit (letterlik en figuurlik) was vergete en het hulle met sterretjies in die oë vertel hoe hulle ontmoet het. Later die aand het Danie se tuisvervaardige chilli sous die aand en gesprek (verder) verwarm en daar is heerlik gesels en gelag (en natuurlik is die sappige beeshaas verorber – steak uber alles)! Dankie my vrou dat jy net die helfte van jou beeshaas kon baasraak.

In die volgende episode:
Die Nappy run (onder andere) julle sal maar moet wag tot volgende keer om uit te vind wat dit is.

13 thoughts on “Eish geen ys!

  1. Abrie, jy is ‘n ware heer – luister (in stilte) na ‘n damsel in distress, deel ys uit, help jou vrou om haar vleisie te eet, staan laer af teen die bultjie om jou vriende groter te laat lyk … Dit klink na ‘n heerlike ontspanne dag na al die inspanning.

    Liked by 2 people

    1. Toegegee in die vorige episode is daar ‘n foto van my en Danie waar ons langs mekaar staan. Hulle is langer as ek maar darem nie so lank nie. Danielle het regtig al daai goed kwyt geraak. Ek het nie eintlik keuse gehad nie moes luister!

      Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.