Is om te blog en blogger te wees dieselfde ding?

For my English enabled friends, this is a blog challenge in my home language Afrikaans inviting us to share why we blog. Soon I will be back with an alternative to the defunct WordPress Photo Challenge, which will be done in English.


Tannie Frannie, ‘n tannie vir wie ek baie respek het (een van vele, wat sê ek… nee julle is nie almal tannies nie!) nooi ons uit om te vertel hoekom ons blog en daar hou sy ‘n agterdeur oop waarby ek nou inglip. Askies Frannie ek glip nie in nie; ek stamp die deur behoorlik uit sy skarniere. Haar woorde in kursief:

  • En (‘skuus Lou) as jy hierdie week bitter besig is,
  • pos sommer net weer een van jou eie gunsteling-inskrywings (en Abrie lees sommer aspris verkeerd en hoor: pos jou oorspronklike inskrywing).

Ek blog vanaf Februarie 2013 maar het eers ‘n blogger geword in April 2016.

In 2013 het ek begin blog na aanleiding van ‘n ingrype in my lewe wat op daardie stadium ‘n rooi-wyn Abrie (wat al hoe beter word soos wat hy ouer word) laat besef het hy is net so feilbaar soos die een langs hom. Die eerste inskrywing plaas ek hieronder aangesien bitter min mense dit sou gelees het, want ek het nie ander se blogs gelees nie. Ek het verwag dat iemand my griffels sou lees sonder ‘n quid pro quo (sonder interaksie vanaf my kant – without me returning the favour). Die oorspronklike salvo van 13 inskrywings het gestop na 3 maande.

Twee jaar daarna plaas ek weer 7 inskrywings, weereens gekoppel aan ‘n gebeurtenis naamlik ‘n Kruger – Mpumalanga vakansie, wat eintik net skakels na foto-albums is.

Dit was egter in April 2016 wat ek besluit het ek wil graag skryf, sonder iets spesifiek wat in my lewe gebeur het, bloot op grond daarvan dat ek lief geword het vir skryf. Daarmee saam het ek egter navorsing gedoen oor blogs en besef dit is nie iets wat kan gebeur sonder belangstelling in ander en wat in hulle woorde leef nie. Met hierdie tweeledige ingesteldheid, het ek ‘n blogger geword. Sedertdien het daar ‘n wonderwêreld van interaktiewe meelewing vir my oopgegaan.

  • Skakel na eerste inskrywing as blogger: Thermopylae
  • en hieronder is my eerste blog post uit die dae voordat ek ‘n blogger was.

Goeie dag vriende en kollegas

My kinders spring sonder ‘n mat, maar ons Jouberts laat ons nie sommer daardeur onderkry nie.

DIE VERLEDE

Maandag 28 Jan 2013

  • Speel oggend muurbal en voel abnormaal moeg na 5 minute.
  • Ek luister nie na my liggaam nie en speel touch rugby die aand. Na 2 minute word ek flou.

Dinsdag 29 Jan 2013

  • Laat doen rustende en stress EKG. Kry angsaanval tydens stress EKG  (sou later uitvind dit is deel van die simptome). EKG bevestig dat niks fout is met my hart nie.
  • Goeie (mediese en nie-mediese) gesprek met  dokter. Was 2 uur 15 minute by hom. Na gesprek met dokter het ek ‘n goeie gesprek met my vrou en daarna met vriende 🙂

Woensdag 30 Jan 2013

  • EKG verslag is ondertussen verwys na Hartspesialis en dr Andrew Murray bevestig dat niks fout is met my hart nie 🙂
  • Die aand beleef ek ‘n geweldige pyn in my borskas terwyl ek bestuur en is onder die indruk dat ek ‘n hartaanval kry. Ek stop en bel ‘n vriend wat naby bly wat weier om my huistoe te vat (ai ek het hardkoppige vriende) en word gehospitaliseer.

Donderdag 31 Jan 2013

  • Met toetse en skanderings word bepaal dat ek ‘n pulminale infarksie beleef het (die afsterwe van ‘n gedeelte van my long). Ook in leketaal beskryf as ‘n hartaanval van die long. ‘n Bloedklont blok ‘n gedeelte van die long (‘n delta) wat lei tot die afsterwe van die delta en duidelike letsel in die vorm van ‘n driehoek agterlaat 😦
  • Die CT scan dui ook aan dat ek groot en veelvuldige emboliste (bloedklonte) het in albei longe 😦
  • Bostaande het Internis vir my gesê in my hospitaalkamer direk na scan. Voor dit het radiogravis (dit is nou nadat ek na die skanderingskamer gestap het) vir my gesê dat die dokter vir my die uitslag moet gee, maar dat hulle my nie gaan toelaat om terug te stap na my kamer nie…
  • Daardie opmerking het nogal ‘n impak op my psige gehad.

DIE HEDE

Vrydag 1 Feb tot Dinsdag 5 Februarie 2013

  • Tot en met hede is 28 buisies bloed getrek. Daar word bepaal dat ek baie gesond is (indien ek nie longe nodig gehad het nie).
  • Ek ondergaan ook ‘n sonar (nee ek verwag nie ‘n drieling nie). Sonar word gebruik ten einde klonte in my ander organe/ are aan te dui asook kanker. Goeie nuus negatief 🙂
  • Daar is nog nie bepaal wat die bloedklonte veroorsaak nie. Die bloedtelling (ten einde te verhoed dat klonte vorm was gister 1.1 vandag 1.6 en behoort more 2 te wees.
  • Daar is toetse uitstaande o.a. protein c en s t.o.v. die stolling van my bloed.
  • Daar is egter vandag vir die eerste keer bloedtoetse gedoen vir kanker. Dr verseker my dat dit bloot roetine is en dat dit hoogs onwaarskynlik is, anders sou die sonar maligniteite (malignancies) uitgewys het. Ek en die internis besig behoorlike of is dit onbehoorlike Afrikaans! Maar dit laat mens steeds wonder (oor die moontlikheid van kanker nie die kwaliteit van die Afrikaans nie).

DIE TOEKOMS 

Woensdag 6 Feb 2013 tot 

  • Met die aanname dat daar geen maligniteite is nie en my INR vlakke 2 is gaan ek môre huistoe.
  • Ek sal tot en met Vrydag 15 Februarie afgeboek wees afhangend van die bloedtoetse.
  • Die volgende 6 maande mag ek nie aktief wees nie (sport en bergstaproetes) 😦
  • Wel my kinders kan darem nog spring!
  • Ek het my ewigheidsperspektief  verloor maar het reeds verlede Dindsdag (voor die pulminale infarksie) opnuut bewus geword dat Christus die Here is. Beteken dit dat ek nie bang of emosioneel word nie? Nee, maar dit beteken dat ek weer die genade kan beleef om dankbaar te wees en alhoewel ek glo dat ek volkome genees sal word is die belangrikste dat niks ons van Christus se liefde kan skei nie.

Groete

Abrie


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die volgende InLinkz-skakel:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=787126

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

19 thoughts on “Is om te blog en blogger te wees dieselfde ding?

  1. Ek geniet altyd jou skrywes, Thermopylae het my diep laat dink en die een wat ek nou net gelees het, het vir trane in my oë gesorg. Dankie tog dat jy ‘n blogger geword het

    Like

  2. Ek is bly jy keef en ek is bly jy is ‘n blogger, maar die tit for tat deel van blogging … is ongelukkig ook waar. Hoe sou ons ander van hou weet as jy nie soms ons ou pogingkies ook lees nie? 😁

    Like

  3. Ek krap kop…. wie is Lou?
    Definitief bly jy is nog met ons en dat jy ons ‘n kykie in jou lewe gee. Ek geniet jou kwikslae… krap (alweer) met tye kop oor jou intelligensie… en geniet dit om in jou stapskoene die natuur te verken 😊 Dis ok… jy hoef nie vir my tannie te sê nie!!!!

    Liked by 1 person

Ek waardeer jou bydrae/ Please add to the conversation

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.